Local newsNews

‘Oom Pat’ se gesin vier dié ‘vader’ met groot dankbaarheid in die hart

Patrick Hendrik Visser (86), beter bekend as oom Pat, vier vanjaar sy 61ste Vadersdag.

Hy woon die afgelope 15 jaar in Modimolle en beskou dit as die grootste voorreg om “vader” van 15 kinders, 47 kleinkinders en 32 agterkleinkinders te wees. Vir hom is sy kinders sy rykdom en die klein- en agterkleinkinders die “rente” op sy rykdom.

Daar bestaan nie iets soos skoonkinders nie; elkeen van die 127 familielede is vir hom spesiaal. Toe Pat en Lenie van Zyl in 1957 getroud is, was die kanse bitter skraal dat hulle eendag sou kinders hê aangesien Lenie aan ’n ernstige hartkwaal gelei het weens rumatiekkoors wat sy as kind gehad het.

Boonop het sy ’n rugbesering in ’n motorongeluk opgedoen toe sy 13 jaar oud was. Die egpaar het egter hul hartsbegeerte in die Here se hande geplaas en Lenie is volkome genees.

Die Pos het met Hantie van Aardt, een van hul dogters, gesels oor hul besondere familie.

“Ons is ’n hegte familie en al woon drie van ons broers en ons jongste sussie in Australië, bly ons daagliks in kontak met mekaar.”

Die familie hou jaarliks in September ’n groot fees om hul pa se verjaardag te vier. Die “Aussie-kaner-familie” het juis almal in 2019 verras toe hulle hier was vir die verjaardagfees.

Van Aardt vertel dat saamwerk, roetine, dissipline en beplanning die wagwoorde was vir die Visser-gesin.

Kinders het van jongs af geleer om huistake te doen met ouer sibbe wat die jonges help.

“My ma kon altyd so lekker lag tot die trane loop,” onthou sy.

Hoewel die gesin dit nie breed gehad het nie, was daar altyd genoeg om met minderbevoorregtes ook te deel.

Visser, wat vroeër as ambagsman gewerk het, het hom later as pastoor bekwaam en in 1999 as voltydse leraar by sy eerste gemeente in Pretoria-Wes ingeval.

Die familie is diep geraak deur die ontydige afsterwe van hul moeder, Lenie, in 2004. Ná haar dood is Pat se volgende gemeente in Kromdraai, ’n klein dorpie ongeveer 140 km oos van Modimolle waar hy 10 jaar lank — tot in 2017 — gewerk het.

Hy is later weer getroud met Hettie Herbst wat met ope arms deur die uitgebreide familie verwelkom is.

Van Aardt vertel dat huisgodsdiens elke aand ’n vaste instelling om die groot eikehouttafel was.

“Elke kind moes iets onthou wat uit die Bybel gelees is en het ’n beurt gekry om te bid,” vertel sy.

“Daar was geen twyfel oor wie ons gesin se anker is nie. My pa is vir ons die beste voorbeeld van ’n Godsman wat sy gesin in liefde lei en dien. Daar is nie genoeg woorde om dankie te sê vir al die jare se liefde en ondersteuning nie,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button