Local newsNews

Geliefde koshuismatrone van Bela-Bela oorlede

Cora Hitchcock (81), ’n bekende en geliefde vrou van Bela-Bela, is op Vrydag 11 Junie by die Warmbad Rusoord oorlede.

Volgens haar familie is sy nie aan Covid-19 oorlede nie, maar aan natuurlike oorsake.

Sy sou op Donderdag 24 Junie 82 jaar oud geword het. Hitchcock het vir meer as 30 jaar by Lord Milner Primary School in Settlers as koshuismatrone gewerk.

Sy het destyds nie soos verwag op 65 afgetree nie, maar tot met haar 70ste verjaardag gewerk. Sy was ’n voorbeeld en inspirasie vir haar kollegas.

Sy en haar seun, Charles (toe nog ’n tjokkertjie), het in 1980 van Zimbabwe na Suid-Afrika verhuis.

Sy was bekend daarvoor dat sy die skoolleerders en ook later haar bure en vriende met deernis versorg het. Sy was altyd bereid om te help, of dit dag of nag was, het haar skoondogter, Alta, gesê.

Die Hitchcock-gesin het ’n lang geskiedenis by Lord Milner Primary School. Charles en sy seun Michael het daar skoolgegaan. Die gesin (Charles, Alta en Michael) is tans almal onderwysers by dié skool.

Cora was die laaste tien jaar ’n inwoner van die Warmbad Rusoord se Tehuis vir Bejaardes.

Volgens Alta was haar skoonma ’n toegewyde Christen en lid van die NG Moedergemeente waar sy haar volle gewig ingegooi het. Sy het haar Christenskap deur voorbeeld uitgeleef.

Haar familie en vriende sal haar altyd onthou as liefdevolle ma en vrou. Charles het by navraag gesê sy was die anker in sy lewe en dit was ’n voorreg om soveel jare saam op die skoolterrein te kon woon en werk.

Talle leerders en oudleerders het op sosiale media hul lof teenoor “matrone Hitchcock” uitgespreek.

Talle het gesê hoewel sy geen nonsies geduld het nie, was sy iemand wat hulle met deernis vertroos het wanneer dit nodig was.

Haar gedenkdiens is op Donderdag 17 Junie om 14:00 vanuit die NG Moedergemeente in Bela-Bela gehou.

Mense wat nie die diens kan bywoon nie, kan die familie vir ’n YouTube-skakel vra, aangesien die diens opgeneem en later op YouTube geplaas sal word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button