Local newsNews

Hulp vir behoeftiges in Vaalwater-omgewing

Waterberg 4 Jesus, ’n nie-winsgewende organisasie wat in 2008 in Vaalwater gestig is, verleen tans hulp aan 40 minderbevoorregte gesinne wat in Vaalwater woon. 

Die organisasie is nie verbonde aan ’n kerk of welsynsinstansies nie en maak staat op besighede en individue vir donasies van kos, klere, huisware en ander benodigdhede.

Die Pos het met Susanna Eckard-Botha van Waterberg 4 Jesus gesels oor hul passie om mense in hul gemeenskap te help.

“Ons stap nou al jare lank ’n pad met hierdie gesinne wat soos familie geword het. By sommige gesinne is daar een broodwinner terwyl ander gesinne tans geen inkomste het nie. Ons help ook bejaardes wat sukkel om te oorleef op hul klein staatspensioene,” het sy gesê.

“Ons help almal wat nood het, maar ons het streng reëls sodat dit verantwoordelikheid kan kweek. Dit is vir ons belangrik dat mense weer beheer neem van hul lewens.”

Volgens haar kom minstens een lid per gesin elke Donderdag om hul week se kospakkies af te haal.

Dit bied die ondersteuningspan die geleentheid om met elkeen te gesels en uit te vind of daar enige probleme of behoeftes is. Sy het aan Die Pos vertel dat ’n bakkery elke week ongeveer 220 brode aflewer.

“Ons is opreg dankbaar vir die bakkery se bydra, want dit was die afgelope 16 maande ons enigste permanente borg.”

Daar is baie ander sakeondernemings, lodges en individue in Vaalwater wat ook gereeld donasies gee.

“Wanneer die jagseisoen afskop, ontvang ons gereeld skenkings van vleis wat weekliks onder die gesinne verdeel word,” het sy gesê.

Waterberg 4 Jesus is ook besig om ’n huis in Vaalwater in te rig vir bykomende gebruike en behoeftes. Eckard-Botha verduidelik dat daar onder meer ’n spreekkamer beoog word vir berading en terapiesessies.

Ander vertrekke sal ingerig word as biblioteek, studeerkamer wat toegang bied tot ’n rekenaar en waar kinders met leerprobleme hulp kan ontvang.

Daar word beoog om die donasies van klere en huisware in een vertrek te stoor en te verkoop.

’n Toegeruste naaldwerkkamer is ook ’n droom. Dit sal hulle in staat stel om aan vroue opleiding te gee sodat hulle dan hul gesinne se klere kan herstel. Dit sal ook die geleentheid bied om ’n inkomste uit naaldwerk te verdien.

Sy het aan Die Pos vertel dat hulle nou saamwerk met Helpende Hand se maatskaplike werker vir hulp in sekere omstandighede. Volgens haar is daar tans twee mense wat in ’n rehabilitasiesentrum in Pretoria geplaas is weens dwelmafhanklikheid.

“Die een persoon se familie betaal die maandelikse koste, maar ons benodig dringend finansiële hulp om die onkoste van die tweede persoon te dra. Die behandeling strek tussen vier tot ses maande,” het sy gesê.

Daar is ook ander gesinne met spesifieke behoeftes waarvoor fondse benodig word.

Waterbergers wat betrokke wil raak, kan vir Eckard-Botha bel by tel. 072 134 9466 of 061 361 9531 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button