Local newsNews

Egpaar sterf dae uit mekaar weens Covid-19

Sarel (83) en Truiki (84) Stander het sowat vyf jaar gelede hul plaas, Bergfontein, in die Lephalale-omgewing, waar hulle dekades gewoon het, verruil vir ’n aftreeplekkie by Die Oog Aftree-landgoed buite Mookgophong.

Vandeesweek het hulle dae uit mekaar aan die Covid-19-virus gesterf.

Die Standers se jongste dogter, Carina Stander (bekende digter en skrywer), het aan Die Pos gesê haar ouers het siek geword nadat hulle onbewustelik in aanraking was met iemand wat Covid-19 gehad het.

Annelie de Wet, die oudste van die drie Stander-kinders, en haar man, Hilgard, het op Vrydag 28 Mei by die egpaar opgedaag omdat hulle besorg was oor hulle en het daarna besluit om ’n ambulans te ontbied.

Albei is na die Phodi Clinic (voorheen St. Vincent-hospitaal) in Bela-Bela geneem. Hulle toestand het egter verder verswak en Sarel is op Sondag 30 Mei oorlede.

“Ons het die Maandag met my ma oor die fisioterapeut se selfoon probeer praat, maar sy het net gesnak na asem en gestotter oor ’n brief wat sy vir ons pa wil skryf en oor haar liefde vir hom. Die Dinsdag het sy nie ’n geluid gemaak terwyl ons met haar praat nie, maar toe ek vir haar vertel dat ek die brief namens haar vir my pa sal skryf, het sy gekreun om te probeer praat. My hart het soos ’n boek geskeur,” het Carina gesê.

Vir Annelie, Carina en hulle broer, Jaco, was dit baie hartseer dat hulle weens Covid-19-protokol nie by hul ouers in die hospitaal kon wees nie.

Nadat die kinders die nuus ontvang het dat Truiki se suurstofvlak drasties gedaal het, het elkeen ’n afskeidsboodskap vir haar op die fisioterapeut se selfoon gestuur.

Volgens Carina was dit boodskappe wat geborrel het van die dankies vir haar heerlike humorsin en woordspeletjies, haar fyn siel, haar kragtige gees en die geborge vryheid waarmee sy hulle grootgemaak het.

“Dit is te danke aan haar dat ek ’n skrywer geword het,” het sy gesê.

Volgens Carina het haar pa sy vrou liefdevol sy “Ribbebeentjie” genoem. Sy het skaars vier dae na haar man se dood, ook haar laaste asem uitgeblaas en in haar sielsgenoot van byna 53 jaar se voetspore gevolg.

Dit was volgens die kinders hul ouers se begeerte om eendag op hul oudag saam te sterf omdat hulle “onafskeidbaar in lewe en dood” was.

Carina het namens die kinders hul dank uitgespreek vir al die huldeblyke in die media.

“Hierdie artikels is huldeblyke van ons ouers wat nou vir ons as kinders en kleinkinders baie beteken,” het sy gesê.

Die kinders beplan ’n privaat afskeid later vanjaar in die Drakensberg waar hulle saam met hul ouers sou gaan vakansie hou het.

”My pa het ons gestick en hy was so opgewonde om vir die eerste keer in die Drakensberg te wees,” het Carina vertel.

Truiki het 40 jaar lank Duits en Afrikaans by Hoërskool Ellisras onderrig en Sarel was ’n boer in murg en been.

“Hulle was geliefd en bemind en laat kosbare herinneringe in die harte van soveel mense wat hulle paaie gekruis het,” het Minette Claassen, ’n jarelange vriendin, aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button