Local newsNews

Annali Connear het ’n hart vir mense

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) dien sedert 1904 hul gemeenskappe onverpoosd.

In Thabazimbi is die SAVF, soos regoor die land, sinoniem met omgee. Met iemand soos Annali Connear aan die stuur van sake trap dié organisasie diep spore in die gemeenskap.

Connear is sedert 1988 ’n inwoner van Thabazimbi. Sy het veral die laaste vier jaar bekend geword as iemand met ’n hart vir haar medemens en dit is ook deels om dié rede dat sy onlangs as visepresident van die SAVF in Limpopo, die grootste SAVF-streek in die land, verkies is.

“Die SAVF se hoofdoel is welsyn. Ons werk elke dag met gesinne en spesifiek kinders wat hulp nodig het,” het sy aan Die Pos gesê.

“Dit is ook hoekom ek oorspronklik by die SAVF betrokke geraak het. Ek wil mense help om hul potensiaal te bereik.”

Volgens haar het sy en haar man kort ná mekaar hul werke verloor.

“Ek het skielik besef hoe gou ’n mens se omstandighede kan verander. Dit het my net weer laat besef hoeveel nood daar in die wêreld, en ook in ons eie Thabazimbi-omgewing, is.

“Dit het ons darem nie lank geneem om weer ons voete te vind nie en dit het my aangemoedig om vir my medemens van hulp te wees. Ons was gelukkig, maar daar is so baie mense wat sukkel om elke dag kop bo water te hou.”

Wanneer ’n mens met Connear gesels oor die werk wat sy doen, word dit vinnig duidelik dat dit vir haar ’n roeping is.

“Die lekkerste deel van my werk is om te sien waar ons werksaamhede ’n verskil maak,” vertel sy.

“Om te sien hoe iemand sy of haar lewe regruk nadat hulle hier by ons aangekom het met ’n dwelmprobleem, of om te sien hoe iemand se oë ophelder as jy vir hulle ’n kospakkie gee … dit is wat dié werk, en die lewe, die moeite werd maak.”

Dié formidabele vrou dien haar dorp met haar hele hart. Vir dié ma is naasteliefde en haar rol as versorger, die heel belangrikste.

Sy moedig Thabazimbi-inwoners aan om ook betrokke te raak.

“Moenie net kyk nie. Rol moue op en maak ’n verskil in iemand anders se lewe. Al is dit ook hoe gering.”

Related Articles

Back to top button