Local newsNews

Warmbad Rusoord diep geraak deur Covid-19

Die goeie en nougesette toegangsbeheer by Warmbad Rusoord se Tuiste vir Bejaardes kon nie die Covid-19-virus stuit nie.

Sover bekend het drie inwoners die afgelope week positief vir dié gevreesde virus getoets. Talle ander is siek of wag op uitslae.

Anne van Blerk, bestuurder van Rusoord, het aan Die Pos gesê van hul inwoners is tans in die hospitaal vir behandeling.

Die Rusoordbestuur het reeds in 2020 die erns van die pandemie besef en strenger maatreëls ingestel om kontak tussen besoekers en hul bejaarde inwoners tot die minimum te beperk.

Mense bo 60 val in die hoërisiko-kategorie. Die Rusoord het ná die verslapping van die nasionale inperkingsmaatreëls weer besoekers onder streng voorwaardes toegelaat.

Dié vergunning is egter nou weer opgeskort om die inwoners se gesondheid te beskerm.

Personeel se gesondheid word ook gereeld gemoniteer om die gevaar van oordrag te verminder.

“Die personeellede is wonderlike staatmakers en het in hierdie uitdagende tye meer as hul kant gebring. Die Rusoord kan steeds, onder uiters stresvolle omstandighede, die nodige sorg aan ons inwoners bied,” het Van Blerk gesê.

“Met die Here se genade sal ons die wa deur hierdie drif kan trek.”

Related Articles

Back to top button