Local newsNews

Skool in rou nádat leerder (14) skielik sterf

Die onverwagse dood van Thys van der Merwe (14), ’n gr. 8-leerder van Hoërskool Nylstroom, het die gemeenskap van Modimolle diep geraak.

’n Gedenkdiens vir Thys, gedoop Mathys Johannes, of klein Thys vir sy familie, is twee dae ná sy ousus se troue gehou.

Sy ouers, Thys en Santjie van der Merwe, is gebore Waterbergers wat al jare lank op ’n plaas buite die dorp woon. Die egpaar het drie dogters, Marga (22), Hesmarie (19) en Suzaan (16). Klein Thys was hul jongste.

Die Pos het met sy ouers gepraat oor die gebeure die paar weke voor sy dood.

“Thys het gedurende die April-vakansie gekla van erge pyn in sy arms en bene. Hy het die eerste week van die tweede skoolkwartaal tuisgebly in die hoop dat die pyn sou verbeter, maar teen Maandag 10 Mei het sy ouers hom na dr. Louis Pienaar in Modimolle geneem,” het sy pa aan Die Pos gesê.

Hy is behandel vir erge blaas- en nierinfeksie. Toe hy twee dae later nog geen verligting van simptome ervaar het nie, het sy ouers hom teruggeneem dokter toe waarna hy bloedtoetse ondergaan het.

Die uitslae van die bloedtoetse het daarop gedui dat Thys ’n baie erge infeksie onder lede het en hy is op Donderdag 13 Mei in die provinsiale hospitaal in Bela-Bela vir behandeling opgeneem.

Volgens sy ouers het die hospitaal ook vitamiene-K toegedien om te help met bloedstolling, want sy bloedplaatjietelling was besonder laag. Die hospitaal het die familie in kennis gestel dat Thys die volgende dag, op Vrydag 14 Mei, ontslaan kan word om tuis aan te sterk.

Volgens Thys snr. was die gesin verheug daaroor dat hy die naweek tuis kon deurbring omdat sy ma die Sondag verjaar het.

Thys was egter teen Maandagoggend (17 Mei) baie duiselig en moeg. Hy het buite in die tuin inmekaar gesak en sy pa moes hom na sy bakkie toe dra.

Hulle het hul na die hospitaal in Bela-Bela gehaas waar Thys dadelik ’n bloedoortapping en verdere behandeling ontvang het. Sy toestand het nie verbeter nie waarna hy in die hoësorgeenheid opgeneem is.

Sy toestand het gedurende die nag só versleg dat die hospitaal sy ouers omstreeks 05:00 die volgende oggend gebel het om hulle in kennis te stel dat Thys per ambulans na die provinsiale hospitaal in Polokwane oorgeplaas word.

Die hospitaalpersoneel in Polokwane het sy ouers meegedeel dat hy egter kort ná sy aankoms by dié hospitaal in die ongevalleeenheid oorlede is. Die familie wag vir die uitslag van die nadoodse ondersoek om die oorsaak van sy dood vas te stel.

Die familie het aan Die Pos gesê hulle sal Thys onthou as ’n saggeaarde seun met ’n borrelende persoonlikheid wat almal om hom gelukkig wou maak.

Sy pa vertel dat klein Thys gewoonlik soggens tussen 04:00 en 05:00 opgestaan het om vir sy ouers en sussies koffie te maak sodat hulle betyds kon wees vir hul dagtake.

Hy was ’n baie goeie akademiese student en het graag geteken en gelees. Hy wou homself graag bekwaam in ’n refleksiologie- of akupunktuurrigting. Hy het graag gelees oor dié onderwerpe.

Sy ma Santjie het in sy begrafnisbrief geskryf:

“My hart is altyd joune. Ek gaan elke oggend vir jou wag. Ek sal altyd lief wees vir jou en ek bring vir jou ’n kaasbroodjie hemel toe.”

Thys laat ’n groot leemte vir sy oupas en oumas, ooms en tannies, niggies en nefies, vriende en medeleerders.

Sy gedenkdiens was op Maandag 24 Mei vanuit die NG Moedergemeente in Modimolle — twee dae ná sy oudste suster, Marga, se troue op hul plaas.

Related Articles

Back to top button