Local newsNews

Motorryers gelukkig om te leef ná ongeluk buite Bela-Bela

Drie voertuie was op Woensdag 26 Mei op die R101 (ou pad) tussen Bela-Bela en Modimolle in ’n baie ernstige motorongeluk betrokke.

Die ongeluk het naby die Springbok Boma-restaurant, ’n paar kilometer van die bekende ATKV Klein Kariba-vakansieoord, plaasgevind.

Volgens inwoners op die toneel is dié kort draai in die pad bekend vir die baie ongelukke wat daar plaasvind.

Dit wil voorkom asof motorryers die sperstreep daar verontagsaam om stadige voertuie voor hulle, of bestuurders wat wil afdraai, verby te steek en dan teen aankomende voertuie bots.

Inwoners wat dié pad gereeld gebruik sê hulle is altyd op hul hoede op dié stuk pad.

Kol. Pule Moselane van die Bela-Bela-polisie het aan Die Pos gesê die bestuurder van ’n swart Ford Fiësta het vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor en toe voor die aankomende verkeer beland het.

’n Trokbestuurder, wat van Modimolle na Bela-Bela onderweg was, het die Ford Fiësta in sy baan gewaar. Hy het skerp remme aangeslaan en probeer om ’n ongeluk te vermy, maar die trok het omgeslaan, het Moselane gesê. Die bestuurder van ’n aankomende Toyota Fortuner het daarna teen albei voertuie gebots.

Volgens die polisie is niemand in die ongeluk dood nie.

Nooddienswerkers het hulle na die toneel gehaas en beseerdes is na plaaslike hospitale en Pretoria vir behandeling geneem.

Verkeer was ’n geruime tyd in albei rigtings ontwrig terwyl noodwerkers die toneel opgeruim het.

Moselane het aan Die Pos gesê dit is ’n wonderwerk dat daar nie mense dood is in die ongeluk nie.

Die ondersoek na die oorsaak van die ongeluk duur voort.

Related Articles

Back to top button