Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die rioolaanleg in Bela-Bela se dravermoë is volgens alle aanduidings lankal reeds oorskry en infrastruktuur word nie in stand gehou nie. Inwoners kla die afgelope jaar onophoudend oor rioolprobleme in veral Wyk 4, die Waterfront en in die Bela Mall-omgewing. Die Bela-Bela-munisipaliteit se enigste beoogde kapitale projek wat deur regeringsfondse gedra word, is om die rioolpyplyn vanaf Forever Resorts Warmbaths na die rioolaanleg te vervang. Geen geld is in die nuwe boekjaar begroot om die bestaande aanleg te herstel of op te gradeer nie. Leon Basson, die DA se skaduminister van water en sanitasie, het die aanleg op Dinsdag 1 Junie besoek. Hy was glad nie beïndruk met die stand van sake nie en het onderneem om David Mahlobo, adjunkminister van menslike nedersettings, water en sanitasie na Bela-Bela te nooi om die probleme aan hom uit te wys. Op die foto is Basson by die verouderde rioolaanleg.
’n Groot gholftoer is van 16-20 Mei in die Waterberg aangebied waartydens geld vir liefdadigheid ingesamel is. Die prysuitdeling is by die ATKV Klein-Kariba-vakansieoord gehou. Op die foto is Marlé Enslin, Ansu Strydom en Hanneli Baumann wat ’n stalletjies beman het om broodnodige geld vir die Stadspoort-welsynsorganisasie in te samel. Stadspoort voorsien kos en klere aan minderbevoorregtes in die omgewing.
DA-raadslede en ondersteuners het op Saterdag 29 Mei die geleentheid aan inwoners van Bela-Bela gebied om ’n petisie te onderteken oor die beoogde wysiging van wapenwetgewing wat landsburgers verbied om vuurwapens vir self-verdediging aan te hou. Talle inwoners het die petisie by verskeie punte in Bela-Bela onderteken en die lyste sal eersdaags na die parlement gestuur word. Links is Tinus Ras, DA-raadslid, by een van die punte.
Inwoners van die Renaissance-aftreeoord in Bela-Bela het op Woensdag 26 Mei die sypaadjies buite die oord opgeknap om die aangesig van die oord te verbeter. Ongeveer 30 inwoners het aan die projek deelgeneem en is bygestaan deur privaat tuindienste. Die Bela-Bela-munisipaliteit het vooraf die gras om die oord gesny. Die hope droë gras is egter ’n hoë brandgevaar en inwoners het besluit om self werk te maak daarvan. Die oordbestuur het ’n versoek aan die munisipaliteit gerig om die lang gras by die dorp se reservoirs ook te sny. Op die foto neem die groep inwoners ’n blaaskansie voordat hulle voortgaan met die opknapwerk.
Eugene van Jaarsveldt, oudinwoner van Bela-Bela, het op Dinsdag 1 Junie die leisels as besturende direkteur van die Forever Resorts Suid-Afrika-groep oorgeneem. Van Jaarsveldt neem oor by Kobus Tait wat sedert 2003 direkteur was. Van Jaarsveldt het in 1999 by Forever Resorts in Bela-Bela begin werk waarna hy by ander oorde soos Badplaas en Blyde Canyon ingeskakel het. Hy het onder meer posisies as oordbestuurder, besturende lid van groepsakeontwikkeling en bemarkingsbestuurder beklee. Van Jaarsveldt werk tans vanuit Forever Resorts se hoofkantoor in Gauteng. Hy het aan Die Pos gesê hy sien daarna uit om die maatskappy met ’n toegewyde span na nuwe hoogtes te lei.

Related Articles

Back to top button