Local newsNews

Brandverbod tree in — voorsitter tree uit

Die ver­bod op die maak van oop vu­re het amp­te­lik op Dinsdag 1 Junie in die Waterberg-om­ge­wing in wer­king getree.

Terselfdertyd het Chris Wagner, jarelange voorsitter van die Bela-Bela-brandbeskermingsvereniging, die leisels oorgegee.

Wagner het aan Die Pos gesê die onderskeie brandsektorspanne is vol vertroue dat hulle gereed is vir die komende brandseisoen.

“Die brandbeskermingsvereniging se werksaamhede kan nie gestaak of afgeskaal word omdat daar ’n pandemie in die land heers nie. Noodsaaklike dienste moet altyd beskikbaar wees.”

Die na­sio­na­le brand­be­heer­wet ver­eis dat grond­eie­naars vooraf brand­ba­ne ­om hul eien­dom­me moet maak. Dit sluit ook amptenare van plaaslike munisipaliteite in, wat op proaktiewe basis op munisipale grond brandbane moet maak.

Mense wat oop vure maak, kan vervolg word en grondeienaars moet ingevolge die nasionale brandwet van nou af spesiale toestemming by die departement van landbou verkry om voorbrande te maak.

“My waarneming is dat te veel owerheidsfunksies nie na wense uitgevoer word nie en die wiele stadig maar seker in die openbare sektor afkom. Die Covid-19-pandemie kry die skuld vir alles wat nou weens laksheid of onkunde verkeerd loop,” het Wagner gesê.

Wagner het gedurende sy tyd as voorsitter baie waarde geheg aan die wetenskaplike weidingsbestuursprogramme en die voorkoming van wegholbrande wat weiding vernietig.

Die proses om ou weiding nuwe lewe te gee, kan in die slag bly as daar onbeplande veldbrande plaasvind. Hy het baie hard gewerk om dié beginsel by boere in te skerp en beter weidingsbestuur aangemoedig.

“Grondeienaars sal op hul voete moet bly dink, sonder om enige noemenswaardige owerheidsinsette te verwag.”

Wagner het gewaarsku dat onbeheerde veldbrande tot voedselonsekerhede kan lei. Hy het gesê hy sal daarop bly aandring dat plaaslike regerings hul brandbeleid beter bestuur.

“Ons was bevoorreg om die afgelope dekade of meer ’n aktiewe brandvereniging te ontwikkel waarop ons trots kan wees. Ek glo dat die vereniging vorentoe van krag tot krag sal gaan onder nuwe en bekwame leiding.”

Melgard Meyer is as waarnemende voorsitter in sy plek aangewys.

Vir navrae en om by die vereniging aan te sluit kan mense vir Arnaud Le Roux bel by tel. 082 325 6578 of vir Mey­er by tel. 084 788 9291.

Related Articles

Back to top button