Local newsNews

Apteke gereed vir inentingsprogram

Inwoners van Bela-Bela en omgewing wat aanlyn vir fase twee van die nasionale Covid-19-inentingsprogram geregistreer het, was verlig om te hoor dat dié diens nou plaaslik verskaf word.

Mense bo 60 en mense bo 18 jaar wat onderliggende gesondheidsprobleme het, kom tydens fase twee in aanmerking vir die entstof. Ander landsburgers bo 18 sal eers tydens fase drie ingeënt kan word.

Die Van Heerden- en Medlin-apteekgroep het die afgelope week begin om inwoners in Bela-Bela met die Covid-19-entstof in te ent.

Volgens ’n verklaring is dié apteekgroepe suksesvol deur die departement van gesondheid geregistreer om die diens by 19 van hul apteke in Limpopo te lewer.

Die Pfizer-entstof word deur die departement gesondheid aan die apteekgroepe voorsien. ’n Woordvoerder het gesê personeellede het opleiding ontvang om die diens ingevolge die nodige protokol te lewer.

Die hantering en berging van die entstof moet onder streng regulasies en voorskrifte gedoen word. Mense kan slegs vir die entstof in aanmerking kom deur op die departement van gesondheid se aanlyn- of SMS-platform te registreer. Elkeen kry dan ’n unieke registrasiekode.

Mediese fondse dek die kosprys vir die entstof. Privaat kontrakteurs, soos apteekgroepe, mag geen wins op die toedien van entstowwe verdien nie.

Hulle is slegs geregtig op ’n R70-toedieningsfooi waarvoor die onderskeie mediese fondse instaan.

Die entstof word uit die voorkomende sorgvoordeel van mediese fondse gedek en beïnvloed nie lede se dag-tot-dag-voordele nie, lui die verklaring deur die apteekgroepe.

Mense wat registreer, sal ’n SMS-boodskap ontvang wat hulle na die korrekte sentrum sal verwys. In die SMS sal die datum, tyd, plek en entstof-kode vervat word.

Mense moet hul ID-dokument en mediese fonds-inligting saam neem vir die inenting.

Vir bykomende navrae kan mense die Van Heerden-groep se webtuiste: www.vanheerden.co.za besoek en kontaknommers daar vind van apteke in hul omgewing wat die diens aanbied.

  • Mense bo 60 kan vir die entstof registreer deur die webtuiste: vaccine.enroll.health.gov.za te besoek en op die nasionale elektroniese inentings-datastelsel registreer.
  • Die departement se Whatsapp-lyn is 0600 123456.
  • Om via SMS te registreer kan mense tel. *134*832# skakel.
  • Die Covid-19 blitslyn kan ook geskakel word by tel. 0800 029 999.

Related Articles

Back to top button