Local newsNews

Waterbergers staan reeds tou vir entstof

Fase twee van die nasionale inentingsprogram vir die Covid-19-vaksine het amptelik op Dinsdag 18 Mei in werking getree.

Fase een van die program het in Februarie begin toe die regering aangedui het hy beoog om teen Mei reeds 500 000 gesondheidswerkers in te ent.

Altesame 478 733 gesondheidwerkers is volgens die regering teen verlede Dinsdag reeds ingeënt.

Die teikengroep van die fase twee program bestaan hoofsaaklik uit nog noodwerkers, mense bo 60 en mense bo 18 met onderliggende siektes.

’n Paar Waterbergers het op die beskikbare aanlynplatform geregistreer en was aangenaam verras toe hulle bykans dadelik hul registrasiebewyse ontvang het.

Hulle het ’n SMS-boodskap van die nasionale departement van gesondheid ontvang met inligting oor die plek waar hulle die entstof sal ontvang.

Johan Mills, voorsitter van die Bela-Bela-belastingbetalersforum (BBTF), en sy vrou, Vera, het aan Die Pos gesê hulle het dié roete gevolg en daarna by die inentingsfasiliteit by die Kekana Gardens-kliniek in Hammanskraal aangemeld.

“Mense het vroeër gesterf aan siektes soos masels en polio wat deur suksesvolle inentingsprogramme gestuit is. Mense leef deesdae langer danksy ’n beter dieet en medikasie,” het Johan gesê.

“Ek het geregistreer om die inenting te ontvang omdat ek ’n onderliggende gesondheidsprobleem het en my ouderdom my ook in die hoërisiko-kategorie plaas. Ek glo die inenting sal my help om ’n weerstand op te bou.”

Hy het aan Die Pos gesê hy en Vera het maar hul bedenkinge oor die proses gehad, maar hulle ervaring was baie positief.

“Die kliniek was skoon en modern toegerus. Elke pasiënt wat opgedaag het, is gevra vir hul unieke registrasienommer wat ons vooraf ontvang het. Ons is daarna ingeënt en moes vir 15 minute by die kliniek in ’n vertrek wag sodat daar bepaal kon word of ons enige newe-effekte ontwikkel.”

Volgens die mediese personeel ervaar mense soms newe-effekte soos duiseligheid of bloeddruk wat skielik daal.

Die Mills-egpaar het egter geen newe-effekte ervaar nie en was gou weer op pad huis toe. Hulle het die Pfizer-entstof ontvang en moet op ’n latere stadium die tweede dosis ontvang.

Mense wat met die Johnson & Johnson-vaksine ingeënt word, ontvang slegs een toediening.

“Ek dink dit is sinneloos om die inentingsveldtog as skadelik uit te kryt. Ongegronde uitsprake en die verspreiding van vals inligting kan steeds in hofgedinge ontaard,” het Johan gesê.

“Die entstof is volgens kenners nie 100% doeltreffend nie, maar dit bied die beste beskerming teen die korona-virus. Dit is verstandig om deel te word van die groter inentingsprogram. Inentingsprogramme het in die verlede wêreldwyd groot welslae behaal teen siektes soos polio en witseerkeel. Mense moet die voor- en nadele deeglik oorweeg en ingeligte besluite neem.”

Die Covid-19-entstof is tans gratis beskikbaar.

  • Verskeie apteekgroepe, asook doktersspreekkamers in die Waterberg, het intussen aangedui dat hulle klinieke op hul persele ingerig het en gereed is om die entstof te begin toedien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button