Local newsNews

Thabazimbi-haweloses se baken van hoop

Toe die bekende Iscor-menasiegebou in 1960 in Van der Bijlstraat in Thabazimbi gebou is, het niemand voorsien dat dit in 2021 ’n baken van hoop vir haweloses van die dorp sou word nie.

Die span van die Thabazimbi Homeless Shelter (THS) se droom vir ’n beter toekoms vir die minderbevoorregtes in die dorp, het die afgelope maand ’n werklikheid geword.

“Mense sien dikwels nie meer nood raak nie,” het Beverley Spira Kühn, wat aan die stuur van sake by THS staan, aan Die Pos gesê.

“Dit is so maklik om verby ander se pyn en nood te kyk, maar as ’n mens vir ’n oomblik vergeet van jou vooropgestelde idees, besef jy vinnig wat jy kan doen om ander te help.”

Wat in 2020 begin het met ’n enkele skenking van ’n 20 liter blik verf, het binne ’n jaar gegroei tot ’n skuiling vir 40 mense wat nie elders ’n heenkome het nie.

Dirk Herman, uitvoerende hoof van Solidariteit, het eens gesê dat R5 in ’n bedelaar se hand hom of haar kan help om ’n brood te koop, maar dit help niemand om uit hul omstandighede te kom nie en dít is volgens Spira Kühn die hoofdoel van die THS.

THS het die afgelope jaar hande gevat met verskeie sakeondernemings en boere in die omgewing om die skuiling te vestig en haweloses van die dorp die geleentheid te bied om weer op die been te kom.

“Mense wat hier aanklop vir hulp, kry nie net ’n plek om te slaap nie.

Ons het hulp gekry van mense uit die gemeenskap wat kan help met opheffingswerk,” verduidelik Spira Kühn.

Die skuiling het ’n baken van hoop geword en wanneer ’n mens deur die gange loop, kan jy nie anders as om geïnspireer te word deur die werk wat die THS-span verrig het nie.

“Ons wou nie net ’n bed vir mense gee nie, ons wil vir hulle ’n tydelike huis gee en hulle aanmoedig om elke dag met nuwe moed in te gaan.”

Die skuiling se deure is nou amptelik oop. Mense wat betrokke wil raak, kan gerus vir Beverley Spira Kühn bel by tel. 078 403 1813.

Related Articles

Back to top button