Local newsNews

Skenk ’n plant en maak Bela-Bela weer mooi

’n Tuinmaakprojek om Bela-Bela se algehele beeld te verbeter sal na verwagting in Junie afskop. Die organiseerders benodig skenkings van plante, potte en goeie potgrond om nuwe beddings te maak. Op die foto is Tinus Ras-DA-raadslid, wat aan die hoof van die projek staan.

Inwoners van Bela-Bela beoog ’n projek om dié dorp weer ’n nuwe baadjie te gee nadat dié eens gesogte toerismebestemming sy sprankel tydens die Covid-19-inperkingstyd verloor het.

Die dorp se strate vertoon onnet en is vol onooglike rommel wat nie verwyder word nie.

Die sypaadjies en parke, wat altyd gekenmerk is deur pragtige inheemse plante, staan nou onversorgd. Die Bela-Bela-munisipaliteit het intussen vir Tinus Ras, DA-raadslid, toestemming gegee om met ’n projek te begin om die dorp se beeld te verbeter.

Daar word beoog om droogtebestande tuine by die ingange van die dorp aan te lê. Die organiseerders doen ’n beroep op inwoners om plante te skenk aangesien fondse skraps is.

“Die skenking van bome, saad of plante sal baie waardeer word. Elke straatkruising en sypaadjie het aandag nodig,” het Ras gesê.

“Sakelui kan betrokke raak deur borgskappe. Inwoners wat kundig is met die uitlê van tuine is welkom om ons te kontak. Indien inwoners kontantskenkings wil maak om plante en potte te koop, sal dit hoog op prys gestel word.”

Goedkeuring is verleen dat die bestaande plaveiselstene op die middelman in sommige strate verwyder kan word en plante in nuwe voorbereide beddings geplant word, het Ras gesê.

Die plaveiselstene kan dan op ander plekke gebruik word waar sypaadjies vervalle is.

“Spekbome, aalwyne, nabome en enige ander plante wat droogtebestand is, sal die beste aard. Mense kan dit by my huis in Apiesdoringlaan aflewer.”

Die projek sal na verwagting gedurende Junie afskop. Vir navrae kan mense vir Ras bel by tel. 082 650 1185.

Related Articles

Back to top button