Local newsNews

Waterberg-sakekamer maak kapsie teen begroting

Die Waterberg-sakekamer in Modimolle het op Vrydag 30 April amptelik beswaar aangeteken teen die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se konsepbegroting vir die 2021/2022-boekjaar.

Volgens Wiets Botes, voorsitter van die sakekamer, is die munisipaliteit ingevolge wetgewing verplig om enige openbare deelname betyds in ’n plaaslike koerant te adverteer.

Die munisipaliteit se eerste plasing in Die Pos-koerant was eers op Vrydag 15 April wat lede van die publiek slegs twee weke geleentheid gegee het tot die sluitingsdatum op Vrydag 30 April om enige beswaar aan te teken, het Botes gesê.

Botes het gesê die konsepbegroting dui aan dat kragtariewe vir die 2020/2021-boekjaar ingevolge die Time of use- (TOU) stelsel bepaal word.

“Dit is nie moontlik nie, want die nasionale energiereguleerder (Nersa) het die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit verbied om die TOU-stelsel gedurende 2020/2021 in te stel. Daar is geen amptelike beleid gepubliseer wat die munisipaliteit magtiging gee om die TOU-stelsel te gebruik nie,” het Botes aan Die Pos gesê.

Die TOU-stelsel bepaal dat duurder tariewe gehef mag word gedurende spitstye en laer tariewe gedurende stil tye. Volgens die sakekamer hou die voorgestelde tariewe op die TOU-stelsel ’n verhoging van bykans 80% in vir ondernemings wat noodwendig die meeste krag gedurende sakeure verbruik.

“Die plaaslike owerheid het by meer as een geleentheid in die verlede te kenne gegee dat hulle eers met die sakekamer in gesprek sal tree voordat so ’n stelsel geïmplimenteer word. Dit wil nou voorkom asof hierdie onderneming nie in ag geneem is nie. As die munisipaliteit voortgaan om die TOU-stelsel en verhoogde tariewe te implementeer, sal die sakekamer regstappe oorweeg,” het Botes gesê.

Botes het voorts gesê die sakekamer het ’n vaste afspraak elke eerste Dinsdagoggend van die maand met die munisipale bestuurder, dr. Melusi Shepard Mhlanga, en die burgemeester, Marlene van Staden, om diensleweringskwessies te bespreek.

Lede van die sakekamer-bestuur het op Dinsdag 4 Mei by die munisipaliteit opgedaag vir die vergadering, maar is meegedeel dat nie een van die twee beskikbaar is nie.

“Dit is ooglopend dat die tradisionele belastingbasis geteiken word deur middel van verhoogde eiendomsbelasting en elektrisiteitsheffings terwyl die basiese infrastruktuur van al die dorpe wat onder die Modimolle-Mookgopong-munisipaliteit val, jaarliks al hoe meer agteruitgaan,” het hy gesê.

Sakelui en inwoners wat die volledige verslag van die sakekamer wil bestudeer kan vir Estelle Mans ’n e-pos stuur na info@waterbergsake.co.za of bel haar by tel. (014) 007 0572.

  • Marlene van Staden, burgemeester, het by navraag aan Die Pos gesê die TOU-tariefstruktuur is sedert 2008 deel van Nersa se amptelike beleid en die munisipaliteit se elektrisiteitsgebruik word sederdien daarvolgens deur Eskom bereken.

“Die munisipaliteit betaal dus ’n hoër tarief tydens spitstyd, maar kan slegs die vaste tarief vir verbruikers hef,” het sy gesê.

Dit lei tot groot verliese vir die munisipaliteit, veral tydens die wintermaande. Van Staden het bevestig dat die munisipaliteit nie die TOU-tariefstruktuur kan implementeer voordat hulle nie goedkeuring van Nersa ontvang het nie.

“Die munisipaliteit het ’n hofsaak aanhangig gemaak teen Nersa omdat daar nog steeds geen terugvoer ontvang is oor die implementering van die struktuur nie,” het sy aan Die Pos gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button