Local newsNews

Gevangene glo aan bed vasgeboei terwyl brand woed

Een van die twee pasiënte wat dood is nadat ’n brand op Dinsdag 4 Mei in die Covid-19-isolasiesaal van die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle ontstaan het, was na verneem word ’n gevangene wat aan sy hospitaalbed vasgeboei was.

William Mehlape (61), oorspronklik van Polokwane, was volgens AO James Findley, polisiewoordvoerder in Modimolle, in aanhouding by die Korrektiewe Dienssentrum in Modimolle waarna hy op Saterdag 1 Mei met ernstige asemnood by die hospitaal opgeneem is.

Omdat gevangenes 24-uur per dag bewaak word en volgens regulasies aan hul beddens vasgeboei moet word, is Mehlape in ’n kleiner kamer behandel.

Hierdie kamer het ’n gewone grootte deur waardeur ’n hospitaalbed nie vryelik in- en uitgestoot kan word nie.

Die Pos het die hospitaal kort ná die brand besoek. Solly Maphologela, hospitaalwoordvoeder het die kamer waar die gevangene was aan Die Pos gewys en verduidelik dat die bed nie deur die smal deur kon pas nie.

Die Covid-19-isolasie afdeling bestaan uit twee sesbedsale — een vir manlike en een vir vroulike pasiënte.

’n Woordvoerder van die departement van gesondheid in Limpopo het tydens ’n mediakonferensie kort ná die brand gesê daar was tydens die brand slegs drie manlike pasiënte (insluitend die gevangene) en een vroulike pasiënt. Die aangrensende algemene vrouesaal het 23 pasiënte gehad.

Die brand het glo in die manssaal ontstaan toe ’n bejaarde pasiënt met dementia in sy hospitaalbed gerook het. Volgens dr. Phophi Ramathuba, Limpopo se LUR vir gesondheid, is die ander pasiënt, Lucas Motsene (70), die vorige dag (3 Mei) in ’n uiters kritieke toestand opgeneem en sou hy die betrokke dag na die MDR-hospitaal in Modimolle oorgeplaas word.

Tydens dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se besoek op Donderdag 6 Mei aan die hospitaal het verpleegpersoneel wat tydens die brand aan diens was hul nagmerrie-ervaring met die minister en die media gedeel.

’n Verpleegster het vertel dat die plaaslike brandweer en polisiediens ontbied is waarna verpleegpersoneel van aangrensende sale gehelp het om al die pasiënte in die gebou te ontruim. Personeellede het volgens haar eers die twee pasiënte uit die brandende kamer ontruim, maar Motsene was toe reeds dood.

Die verpleegster het gesê toe hulle by die gevangene se kamer kom, was die bewaarder nie op sy pos nie. Die pasiënt was aan die bed vasgeboei en die verpleegpersoneel kon nie die bed deur die smal deuropening na buite stoot nie.

“Toe die bewaarder uiteindelik opgespoor is om die boeie te verwyder, was die pasiënt reeds dood,” het sy gesê.

Volgens die personeel wat die bewaarder gaan soek het, is hy glo in sy motor in die hospitaalterrein opgespoor.

Mkhize het die personeel wat tydens die brand aan diens was, toegespreek en hulle geprys vir hul dapper optrede waartydens 25 pasiënte gered is. Hy het gesê hul flinke optrede getuig van toewyding en moed en hulle het ’n nóg groter tragedie voorkom.

Hy het sy meegevoel aan die slagoffers se families betuig. Die hospitaal se brandslange en brandblussers was in ’n werkende toestand en hoewel die brandslang te kort was om tot by die vuur te kom, het personeel daarin geslaag om die brand te blus, het die verpleegster gesê.

Die hospitaalwoordvoerder het aan Die Pos bevestig dat al die brandtoerusting verlede jaar gediens en in ’n werkende toestand was.

Volgens Ramathuba het die polisie se brandspesialiste en die departement van gesondheid se forensiese afdeling bevestig dat daar geen tekens is dat die brand deur ’n elektriese kortsluiting veroorsaak is nie.

Die “roker” is intussen na die MDR hospitaal oorgeplaas waar Mkhize en Ramathuba hom op Donderdag 6 Mei besoek het.

Ramathuba het aan Die Pos gesê die pasiënt, wat bydraende siektetoestande onder lede het, ly aan dementia en besef nie wat die implikasie daarvan is om te rook in ’n hospitaalbed nie.

  • Die Pos het die kommunikasiebeampte van korrektiewedienste se hoofkantoor in Polokwane Limpopo gekontak vir terugvoer, maar kon teen druktyd nie bevestig of daar dissiplinêre stappe teen die betrokke bewaarder geneem word nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button