Local newsNews

Huiseienaars raadop oor ‘riooldam’ in hul erf

Huiseienaars van ’n pragtige grasdakhuis aan die onderpunt van Paul Krugerstraat in Modimolle het vroegoggend op Dinsdag 11 Mei ontdek dat daar oornag ’n “riooldam” in hul agtertuin gevorm het.

Die rou rioolwater het ’n area van meer as 300 m² in die agtertuin bedek en vloei bykans reg rondom die huis tot langs die voordeur. Die rioolwater by die huis se agterdeur is meer as 30 cm diep.

Die Pos het met die huiseienaars, Johan en Chantelle van der Merwe, wat die eiendom in 2019 gekoop het, gepraat.

“Dit is nie die eerste keer dat die buitedrein by die kombuis oorloop en die hele erf vol stroom nie. Die vorige keer was in Maart vanjaar en dit het in 2020 ’n hele paar keer gebeur,” het Chantelle gesê.

“Ons het direk met Thabang Selemela, bestuurder van water en sanitasie van die plaaslike munisipaliteit, gepraat. Hy woon skuins oorkant ons, maar daar was geen hulp of raad nie, want die rioolprobleme is steeds onopgelos. Intussen kan ek en my man en ons driejarige seuntjie amper nie asemhaal in ons huis nie.”

“Ek bedryf ’n naelsalon van die huis af en kan glad nie kliënte hier ontvang met hier- die verstikkende reuk nie. Die vorige keer het dit meer as ’n week geneem vir die water om in die grond weg te sak,” het sy aan Die Pos gesê.

Chantelle het ook vertel dat hulle met die vorige oorstromings verskeie slote om die huis en buitegeboue gegrawe het sodat die rioolwater kan wegvloei en nie teenaan die geboue opdam nie.

Die krake in die mure van die grasdaklapa en baksteenmotorhuis is duidelik sigbaar soos wat die fondasies begin meegee.

Volgens Chantelle is daar ook duidelike tekens van stygende vog teen die agtermuur wat strek vanaf die kombuis en twee badkamers tot in die hoofslaapkamer.

“Ons het vroeër vanjaar probeer om die skade te eis by ons huisversekering, maar sonder sukses. Ons is werklik raadop,” het sy gesê.

Japie Bosch, wat die afgelope 20 jaar met boerbokke en hoenders reg langs die Van der Merwe-gesin boer, ervaar dieselfde probleme.

“Die munisipale rioolpype is te klein en wanneer daar laer af in die pyplyn ’n blokkasie is, stoot dit terug in die riool- pype en oorstroom dit hier by ons,” het hy aan Die Pos gesê.

“Ek het intussen ’n ekstra oorlooppyp geïnstalleer sodat die riool in die straat kan afloop en nie in my of my bure se huise en erwe nie.”

Johann Abrie, DA-raadslid van hierdie wyk in Modimolle, het by navraag aan Die Pos gesê:

“Die rioolprobleme in Paul Kruger-, Limpopo- (Rivier) en Chris Hanistraat het nou die vlak van menseregteskending bereik. Ons ontvang weekliks klagtes van rou riool wat in inwoners se sakepersele, huise of erwe opstoot. Die huisbewoners is radeloos en sê hul klagtes val op dowe ore by die munisipaliteit. Die munisipaliteit kon tot op datum nie met volhoubare oplossings vorendag kom nie. Inwoners is moedeloos vir al die verskonings oor water en sanitasieprobleme,” het Abrie aan Die Pos gesê.

“Daar is in 2018 bykans R80 miljoen bewillig vir die opgradering van rioolpype in hierdie omgewing, maar weens korrupsie en wanbesteding is daar weinig verbeterings aangebring.”

Abrie het aan Die Pos gesê dat hy hier- die saak nou onder die aandag van die menseregtekommissie (MRK) gebring het sodat die Groen Skerpioene verdere ondersoek kan instel.

  • Die Pos het op Vrydag 16 April vanjaar berig oor die voortslepende rioolprobleme in Modimolle.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong plaaslike munisipaliteit, word daar beoog om vanjaar verskeie pyplyne in die dorp te vervang met pype wat ’n groter deursnee het. Verbeterings aan pype wat oor die laagliggende gedeeltes van Paul Kruger-, Lillian Ngoyi- en Joe Slovostrate strek, word ook beplan.

Related Articles

Back to top button