Local newsNews

Twee sterf ná brand by FH Odendaal-hospitaal

Twee manlike pasiënte is dood nadat ’n brand op Dinsdag 4 Mei omstreeks 03:30 in die Covid-19-isolasiesaal van die FH Odendaal-hospitaal in Modimolle ontstaan het.

Die Pos was vroegoggend op die toneel en het die gedeelte van die gebou gesien wat tydens die brand beskadig is. Swart roet was teen die muur en ’n swaar brandreuk het in die lug gehang. Die dakstruktuur en die res van die vensters en baksteenmure het nie gelyk asof dit beskadig is nie.

Daar is streng Covid-19-maatreëls toegepas en niemand is aanvanklik binne-in die gebou toegelaat nie. Dr. Phophi Ramathuba, Limpopo se LUR van gesondheid, het vroegoggend vanaf Polokwane gekom om die hospitaalpersoneel toe te spreek en die perseel te besigtig.

Twee pasiënte is dood nadat ’n brand op Dinsdag 4 Mei in die Covid-19-isolasiesaal van die FH Odendaal-hospitaal (bo) in Modimolle uitgebreek het. Op die onder is dr. Phophi Ramathuba, Limpopo se LUR van gesondheid, en dr. Ngwakoana Nkwana, waarnemende senior kliniese bestuurder van die hospitaal, by AO Jan Baloyi van die Waterberg-distrik se forensiese taakspan en konst. Derrick Paton van die Modimolle forensiese afdeling, reg voor die venster waar die brand vroeër uitgebreek het. Heelonder is die gebou. Foto’s: Herman Steyn

Daarna het sy die media toegespreek. Ramathuba het bevestig dat die brand omstreeks 03:30 in die Covid-19-isolasiesaal vir mans uitgebreek het. Die verpleegpersoneel aan diens het die saal dadelik ontruim waarna hulle die brand geblus het nog voordat die brandweerdiens opgedaag het, het sy gesê.

Die flink optrede van die verpleegpersoneel het volgens Ramathuba verhoed dat die brand na die res van die manssaal, asook die aangrensende vrouesaal, versprei.

Volgens Ramathuba is een van die pasiënte wat oorlede is, net die vorige dag (op Maandag 3 Mei) in ’n uiters kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. Hy was nie tydens sy opname by sy volle bewussyn nie.

Volgens Erenst Makau, beampte van die departement van korrektiewe dienste in Modimolle, is die ander pasiënt wat dood is ’n 61-jarige gevangene, oorspronklik van Polokwane, wat op Saterdag 1 Mei in ’n bedenklike toestand in die hospitaal opgeneem is met ernstige asemhalingsnood.

Daar word vermoed dat rookinaseming tot albei mans se dood gelei het, maar dit sal eers bevestig word na afloop van die nadoodse ondersoeke.

Die name van die pasiënte kan eers bekend gemaak word sodra hul naaste familie in kennis gestel is.

Die Pos het bewerings gehoor van ander pasiënte in die Covid-19-isolasiesaal dat die brand veroorsaak is deur ’n pasiënt wat in die saal gerook het, maar die department het teen druktyd gesê die oorsaak van die brand kan eers ná forensiese ondersoeke bepaal word.

Ramathuba het haar diepste meegevoel aan die families van albei oorledenes betuig.

Related Articles

Back to top button