Local newsNews

Moedersdag is baie meer as net nog ’n dag

Met Moedersdag (Sondag 9 Mei) net om die draai, het Die Pos by ’n paar “moeders” in Mookgophong gaan inloer om te hoor hoe hulle graag bederf wil word.

Anita Rossouw woon al jare in Mookgophong en is ’n afgetrede radiografis. Vir haar was die grootste verrassing vir ’n Moedersdaggeskenk toe sy van haar seun, Francois Rossouw, en skoondogter, Karin, ’n koevert ontvang het. Binne-in was ’n uitnodiging om vir ’n week saam met hulle en haar twee kleinkinders en Karin se ma vir ’n week Mauritius toe te gaan.

“Ons het ’n fees gehad,” het sy vertel.

“Wat ek nou die graagste wil hê is om Moedersdag saam met my vier kinders en hul gesinne (nege kleinkinders) te kan deurbring. Weens die Covid-19-inperkings het ons gans te min van mekaar gesien en aangesien Francois nou in Engeland woon, sal dit seker nie gou gebeur nie.”

Alfreda Pienaar het vertel haar grootste verrassing op Moedersdag was ’n heerlike feesmaal toe hulle gesin ’n laagtepunt beleef het.

Alfreda Pienaar het gesê haar grootste Moedersdag-verrassing was ’n heerlike ete wat ’n vriendin vir haar en haar man, Theo, op Moedersdag voorberei het toe hulle ’n groot krisis beleef het.

“Ons het die hotel op Perdekop gehad en toe eensklaps alles verloor. Dit was ’n moeilike tyd in ons lewens. ’n Vriendin wat ’n uithalersjef is, het my en my man, Theo, verras met ’n watertandete op Moedersdag. Dit was ’n groot verrassing en ’n geskenk uit die hart.”

Die grootste geskenk vir hierdie jaar sal ’n tjek wees om ’n knievervanging en rugoperasie te ondergaan.

Mariaan Scherman sê ’n heerlike pamperlangsessie in ’n spa sal net die regte geskenk vir hierdie Moedersdag wees.

“Die lekkerste bederf wat ek al gehad het, was ’n heerlike ete waar ek net kon aansit. My kinders het net mooi alles gedoen en alles gemaak waarvan ek hou. Die lewe is so kort. Ons moet mekaar bederf,” het Mariaan Scherman aan Die Pos gesê.

Sy sal baie daarvan hou om bederf te word met ’n dag in ’n spa met allerlei pamperlangsessies. Elba Nel kry gewoonlik op Moedersdag ontbyt in die bed.

“My grootste bederf is wanneer my geliefdes ’n geskenk vir my gee wat nie in Mookgophong gekoop is nie,” het sy met ’n knipoog gesê.

Haar grootste wens is egter om gesond te wees en die dag saam met haar man en dogters deur te bring.

Related Articles

Back to top button