Local newsNews

Moedersdag: Hulle is geseën met armsvol klein- en agterkleinkinders

Moedersdag is ’n miernes van bedrywigheid vir Gawie en Heilie Richter, jarelange inwoners van Modimolle, want met drie kinders en sewe kleinkinders met hul gades, asook sewe agterkleinkinders, verg dit kophou en goeie beplanning om alles klopdisselboom te laat verloop.

Die Pos het met die Richter-egpaar gesels om uit te vind hoe dit voel om armsvol klein- en agterkleinkinders te hê.

“Dit is alles net genade van Bo. Ons bid deurentyd vir hulle en is elke dag dankbaar vir hierdie groot seën,” het hulle aan Die Pos gesê.

Die oudste van hul drie kinders, Marene (60), is getroud met Koos de Wet, ’n bekende regsgeleerde.

Sy was destyds ’n onderwyser, maar sy en haar man besit en bestuur tans verskeie gastehuise in die omgewing en woon in Mokopane. Cobus Richter (57), wat getroud is met Susan Prinsloo, werk vir ’n internasionale hotelgroep en woon saam met sy gesin in Swaziland.

Die jongste, Helga (55), is getroud met Eben Pietersen en hulle boer met gewasse, beeste en skape naby Amersfoort, Mpumalanga. Volgens Heilie is vyf van die sewe kleinkinders reeds getroud met kinders van hul eie.

“Die grootste seën is dat almal in Afrika woon en werk. Hulle het uiteenlopende beroepsrigtings van onderwyser, tandarts, ouditeur, finansiële adviseur, ingenieur tot ’n sjef by ’n bekende restaurant in Johannesburg.”

Sy vertel opgewonde dat die agtste agterkleinkind in Mei haar opwagting maak, terwyl die oudste agterkleinkind al in Desember ses kersies kan doodblaas.

Die Richter-egpaar is vanjaar 62 jaar getroud, maar ken mekaar sedert Heilie se geboorte 80 jaar gelede.

Hulle het 20 jaar naby Swartruggens geboer en woon sedert 2003 in die Bosveldsig-aftreeoord in Modimolle.

Heilie het vanjaar, met behulp van haar kinders, ’n boek getiteld, ’n Miernes vol wyshede, met meer as 3 000 Afrikaanse spreekwoorde uitgegee waarvan die tweede oplaag reeds in druk is.

Dit is daarom seker gepas om ook na die Richters se huis as ’n “miernes vol wyshede” te verwys.

Related Articles

Back to top button