Local newsNews

Agt vriendinne vier familie op Moedersdag

’n Ma is soos ’n kombuis — die hart van die huis, die een plek waar almal veilig voel, die een plek waar almal op hul gemak is.

Hierdie Moedersdag (Sondag 9 Mei) kry Suid-Afrikaners weer die geleentheid om hul ma’s te vier met ’n klein gebaar: lekker sjokolade, ’n drukkie of twee of selfs ’n foonoproep.

Maar hoe maak jy as jy nie by jou ma kan wees om haar spesiale dag te vier nie? Vir die vroue by Immergroen-tehuis in Thabazimbi is dit soms maklik om so ’n dag te vergeet.

Sommige inwoners se kinders woon ver en ander kan dalk nie so gereeld kom kuier soos hulle graag wil nie. Vanjaar vier dié groep vriendinne egter die lewe en ma-wees behoorlik.

“Dit raak partykeer te maklik om sulke dae sommer net te laat verbygaan, maar hier maak ons dit vir onsself lekker,” vertel Hannetjie Minnaar.

Wanneer ’n mens by Immergroen-tehuis inloop, word jy altyd vriendelik begroet met ’n huislike atmosfeer en die inwoners wat lag en gesels.

Dit is duidelik dat dié groep vroue hulle nie deur die lewe laat onderkry nie.

“Ons kan nie altyd ons kinders of familie sien nie, maar ons is soos ’n familie en dit maak elke dag soos ’n vakansiedag,” sê Hazel Lusse.

“Ons geniet elke dag saam en wanneer dit ’n spesiale dag is, soos Moedersdag of iemand se verjaarsdag, maak ons dit vir almal lekker. Ons geniet die lewe saam en soms kul ons so effens met ’n lekkerny.” “Dankbaarheid maak die lewe die moeite werd,” voeg Marthie Erasmus by.

“Ons het almal so baie om voor dankbaar te wees en ons vergeet dit te maklik. Party kinders is vroeg in hul lewens wees gelaat en party ouers het reeds kinders aan die dood afgestaan. Dit is hoekom dae soos Moedersdag ’n mens leer om van vooraf dankbaar te wees vir jou geliefdes.

“Die lewe is kort en ons moet elke dag doen wat vir ons lekker is terwyl ons nog tyd op aarde oor het,” sluit sy af.

Related Articles

Back to top button