Local newsNews

Skok ná verkeersman glo homself en vriendin skiet

Die Bela-Bela-gemeenskap is geskok nadat ’n alombekende verkeersman van die dorp glo sy vriendin, en daarna homself, met sy dienspistool doodgeskiet het.

Die voorval het op Dinsdag 27 April (Vryheidsdag) op die Alma-pad net buite die dorp plaasgevind.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het Sello Maleka (45) sy vriendin, Mathapelo Bertha Mokgohloa (30), geskiet en daarna die vuurwapen op homself gerig.

Maleka was die betrokke vakansiedag veronderstel om op die R101-pad tussen Bela-Bela en Modimolle aan diens te wees.

Maleka se vriendin, Bertha Mokgohloa (30).

Hy het vermoedelik onverwags sy pos verlaat en vir Mokgohloa iewers ontmoet. Die twee is in haar voertuig op die Alma-pad uit.

Die voertuig is ’n paar meter van die eerste ingang na Fish Eagle Bay langs die pad geparkeer gevind.

Daar is bewerings dat die twee vroeër in ’n hewige argument betrokke was, maar die polisie kon dit nie bevestig nie.

Mojapelo het gesê ’n verbygaande motorryer het glo stilgehou onder die indruk dat ’n motorongeluk plaasgevind het omdat Mokgohloa se liggaam langs die voertuig op die grond gelê het.

Die toneel op die Alma-pad buite Bela-Bela waar die treurspel plaasgevind het.

Die geskokte motorryer het hulp ontbied en die polisie is na die toneel waar die paartjie albei dood met skietwonde gevind is.

Verskeie mense wat in werkverband met Maleka te doen gehad het, het aan Die Pos gesê hulle het hom in die dae voor die voorval gesien en hy het glad nie vreemd opgetree nie.

Hy het jare lank ’n woonstel in die Môredou-kompleks in die dorp gehuur en van sy bure het nog die oggend van die voorval met hom gesels.

Die polisie doen ’n dringende beroep op mense wat huishoudelike of verhoudingsprobleme ervaar, om sielkundige hulp te soek, het Mojapelo gesê.

Related Articles

Back to top button