Local newsNews

Kontreimark ’n groot sukses

Die eerste Naboom-kontreimark is op Saterdag 24 April buite Mookgophong gehou en almal is dit eens dat dit ’n groot sukses was.

Die mark was die breinkind van inwoner André Pienaar.

“Die markdag het alle verwagtinge oortref en bykans ses keer meer mense as wat ons verwag het, het opgedaag. Ek en my span moes bontstaan, maar dit was die moeite werd. Ons is verheug oor die opkoms en sien uit na die volgende mark op Saterdag 15 Mei,” het Pienaar aan Die Pos gesê.

Die 45 uitstallers was net so in hul skik met die opkoms en verkope. Daar was iets vir oud en jonk en die kos was uit die boonste rakke.

“Waar begin ’n mens om ’n gemeenskap soos hierdie te bedank vir hul betrokkenheid en lekker saamwerkgees? Die Naboom-kontreimark was ’n broodnodige ekonomiese inspuiting vir ons omgewing en het geld ingebring wat ’n bydrae lewer tot die sosiale ontwikkeling van die gemeenskap,” het Pienaar gesê.

Hy het gesê hulle sal sorg dat klein haakplekkies, soos parkering en toegangsroetes, verbeter word en daar word ook beoog om die kosstalletjies uit te brei.

Hoewel Covid-19-maatreëls deurentyd gehandhaaf is, was dit duidelik dat die omgewing se mense uitgehonger is vir buitelug-aktiwiteite.

Wonderland Kleuterskool het ’n pendeldiens ingestel wat die 7 km grondpad vir besoekers makliker gemaak het.

Besoekers kon teen ’n geringe fooi van die pendeldiens gebruik maak.

Related Articles

Back to top button