Local newsNews

Familie in skuld gedompel ná pa se dood

Die Hartzenberg-familie van Modimolle moet nie net hul pa se dood verwerk nie; hulle spartel ook nou behoorlik om sy astronomiese mediese uitgawes te betaal.

Die familie het as laaste uitweg besluit om ’n fondsinsameling te loods om dié koste, wat bykans R1 mijoen beloop, te help delg.

Willem Hendrik Hartzenberg (68) is op Saterdag 27 Maart oorlede.

Willem en Elsie (62), met hul vier kinders, Rentia, Catherine, Willem jnr. en Francois, het hul meer as 30 jaar gelede op ’n plaas tussen Modimolle en Vaalwater gevestig. Hulle het onder meer groente gekweek en meer as 20 jaar lank gevriesde groente aan verskeie instansies, waaronder die Kokanje aftree-oord, gelewer.

Die Pos het in 1993 berig oor die Hartzenbergs wat op hul plaas aangeval is. Dit was een van die heel eerste plaasaanvalle in die destydse Noord-Transvaal (nou Limpopo). Die gesin het die aanval wonderbaarlik oorleef, maar Willem se gesondheid het later versleg toe hy vir nierkanker behandel is. Hy het daarna ook ’n hartaanval en twee beroertes oorleef.

Volgens Rentia van Jaarsveld en Catherine Nel (Willem se twee dogters), het die Covid-19-pandemie die groenteplaas swaar getref en moes hul pa noodgedwonge verlede jaar sy mediesefondslidmaatskap kanselleer.

Die gesin het ’n hegte band en het gereeld familie-etes met al die kinders, eggenotes en kleinkinders gehou. Dit was juis ná so ’n familie-ete op Maandag 15 Februarie dat Willem skielik by die huis inmekaar gesak het. Hy is inderhaas na die Steve Biko-hospitaal in Pretoria geneem waar hy ’n breinskandering ondergaan het.

Volgens Van Jaarsveld, ’n mediese dokter op Vaalwater, kon die betrokke dokter by die hospitaal nie dadelik ’n diagnose maak nie.

“Pa Willem moes twee dae in die Covid-19-isolasietent op die toetsuitslae wag voordat hy in die hospitaal opgeneem kon word, maar omdat die intensiewesorgeenheid vol was, moes hy ’n verdere twee dae in die ongevalle-eenheid wag. Drie dae later is bevestig dat hy bloeding op die brein gehad het weens ’n aneurisme wat gebars het. Van Jaarsveld het gesê teen laatmiddag op Donderdag 18 Februarie het haar pa nog steeds nie behandeling ontvang nie en het sy kinders uit desperaatheid R500 000 by ’n weldoener geleen om hom na ’n privaat hospitaal in Pretoria te laat oorplaas. “

Daardie aand, terwyl ons kinders en kleinkinders in die parkeerterrein by die Steve Biko-hospitaal gewag het vir die ambulans, het ons ’n visioen van ’n wit engelfiguur in die donker nagruim gesien,” het Nel vertel.

“Kort voordat die ambulans opgedaag het, het sy toestand versleg omdat die aneurisme weer begin bloei het. Noodbehandeling is toegepas en hy is omstreeks 23:00 per ambulans na die Unitas-hospitaal oorgeplaas. Hy het daar op Saterdag 20 Februarie ’n operasie ondergaan om die aneurisme te seël. Dokters het ook bevestig dat hy longontsteking onder lede het,” het Van Jaarsveld gesê.

Teen einde Februarie het die totale mediese rekening reeds bykans R600 000 beloop en is sy gesin derhalwe met geen ander keuse gelaat as hom op Vrydag 12 Maart terug te plaas na die Steve Biko-hospitaal nie. Sy dogters sê die verpleegpersoneel het hulle daagliks op hoogte gehou en sy vrou en Francois is selfs toegelaat om hom vir vyf minute te sien.

Volgens Van Jaarsveld is hulle meegedeel dat Willem ernstige middelweerstandige bakteriële longontsteking het wat slegs met peperduur ingevoerde medikasie behandel kon word.

Die familie het toestemming gegee dat behandeling kon voortgaan en Willem se toestand het mettertyd verbeter. Hulle het egter sowat twee weke later, op Saterdag 27 Maart, ’n oproep ontvang dat hy oorlede is weens ’n bloedklont in die longe.

“Dit was ’n geweldige skok vir die familie, want ons het bly vashou aan die hoop dat hy sou herstel en terugkom plaas toe,” het Van Jaarsveld gesê.

Sy begrafnis is op Woensdag 7 April op die plaas gehou. Die gesin is boonop gelaat met mediese rekeninge wat altesame R980 000 beloop.

Hulle het besluit om ’n fondsinsamelingsprojek te loods om kaartjies te verkoop vir ’n gelukkige trekking van ’n bees (ter waarde van R15 000) as eerste prys en ’n vark as tweede prys.

Die kompetisie sluit op Saterdag 29 Mei.

Inwoners wat belangstel om kaartjies teen R100 elk te koop, of die familie wil help met kontantskenkings, kan vir Catherine Nel bel by tel. 064 838 8955, Willem Hartzenberg (jnr.) by tel. 079 033 8603 of Catinka Smit by tel. 076 318 2879.

Related Articles

Back to top button