Local newsNews

Dowe vrou droom groot

Samantha Lötter van Pretoria se droom het op Vrydag 9 April waar geword toe sy tydens die Me. Doof Suid-Afrika 2021-skoonheidskompetisie, wat in Hartbeespoort aangebied is, met die kroon weggestap het.

Lötter is die skoondogter van Tienie en wyle Manda Myburgh van Bela-Bela.

Die kompetisie is vir vroue wat gehoorgestremd is en wat in hul kroningsjaar vir verskeie fondsinsamelingsprojekte verantwoordelik is. Hulle moet as ambassadeur vir die dowe gemeenskap optree.

Sy het aan Die Pos gesê haar doel is om landsburgers bewus te maak van die spesifieke behoeftes van mense met gehoorverlies en ook om te wys dat hulle hul plek in die arbeidsmark kan volstaan.

Lötter is in 2019 as eerste prinses aangewys en Judith Madi van Johannesburg het die kroon gedra. Madi is egter in Maart vanjaar skielik oorlede.

Sy was ’n rolmodel en inspirasie vir Lötter en sy erken dat sy ontsenu was om sonder Madi se inspirasie voort te gaan.

“My skoonma, Manda, was ’n groot dryfveer in my deelname. Sy het my altyd aangemoedig en onwrikbaar in my geglo. Sy was ’n ongelooflike mens en haar dood het ’n groot leemte gelaat. Sy het altyd gesê ek moet onthou dat ek ’n wenner is, ondanks wat op die kroningplegtigheid gebeur.”

Lötter sê sy is in 1993 aangespoor om aan skoonheidskompetisies deel te neem nadat sy na die Me. Suid-Afrika-kompetisie gekyk het.

“Ek was omtrent vier jaar oud. My ouers het my moed ingepraat en in 2009 het ek ingeskryf vir Mej. Doof. Dit was maar net die begin.”

Sy het egter met volgehoue ondersteuning van haar familie in 2019 weer ingeskryf waarna sy as eerste prinses aangewys is.

Al die deelnemers was in die dae voor die 2021-kompetisie by liefdadigheidswerk betrokke.

Sy het haar toegespits op Pretoria-Wes waar inwoners werklik nood ervaar en ondersteuning nodig het, het sy gesê.

“Die liefdadigheidswerk het vir my gewys dat daar baie mense in ons land is wat bitter swaarkry en ons moet dankbaar wees vir die seën wat ons ontvang.”

Lötter se gehoorprobleem is aangebore.

“Dit is uitdagend om ’n gehoorprobleem te hê. Daar is regtig mense wat dink dat dowe mense nie intelligent is of inpas nie. Dit is baie moeilik om hulle verkeerd te bewys.”

Sy het haar skoolopleiding by die De-La Batskool vir Dowes in Worcester voltooi.

“Ek het in dié tyd besef ek moet harder werk as normale mense as ek wil uitstyg. Ek moet bewys dat my gestremdheid nie ’n remskoen is nie. Ek kan dieselfde doen as ander mense.”

Sy het haar eie skoonheidsalon in 2000 geopen en bedryf sedertdien ’n baie suksesvolle onderneming.

Sy is getroud met Noël Lötter en het twee pragtige dogtertjies, Davida en Noeline.

“Die inperkingstyd het gesorg vir goeie en slegte tye, maar daar is lesse wat ons daaruit kan leer. Ons moet bly glo, bymekaar staan en mekaar ondersteun, al gebeur wat.

Sy fokus tans, as nuutgekose Me. Doof SA, om meer blootstelling aan die dowe gemeenskap se pleidooie te gee.

“Daar is baie van hulle wat hulself graag wil bewys, maar hulle word nog steeds oor die hoof gesien weens hul gehoorprobleme,” het sy gesê .

“Dowes moet net ’n geleent- heid gegun word om hul volle potensiaal uit te leef. Ek wil graag die sakewêreld uitdaag om ons ’n kans te gee.”

Related Articles

Back to top button