Local newsNews

Vaalwater se ingang nie meer ’n seeroog

Inwoners van Vaalwater is verheug om te verneem dat die onooglike skrootwerf reg by die dorp se hoofingang vanaf die R33 eersdaags na ’n ander perseel verskuif word.

Die privaat skrootwerf behoort aan Russell Sadler, bekende sakeman van Lephalale.

Volgens Sadler is hy al geruime tyd op soek na ’n meer geskikte perseel verder weg van die dorp se hoofingang.

Met die hulp van Ken Maud van die Waterberg Development Initiative (WDI) het hulle vroeër vanjaar ’n geskikte perseel in Spoorwegstraat gevind en die hele skrootwerf verskuif eersdaags daarheen. Die nuwe skrootwerf behoort vanaf Saterdag 1 Mei ten volle in werking te wees.

Deel van die samesprekings tussen Sadler en die WDI was om ’n daadwerklike opruimingsplan vir Vaalwater daar te stel.

Sadler sal voorts, in samewerking met die plaaslike munisipaliteit, tien groot vullishouers op verskillende strategiese punte in die dorp voorsien. Sy onderneming sal die groot houers gereeld leeg maak en sodoende mense aanspoor om hul rommel in die vullishouers te gooi.

Dit sal inwoners van die dorp in staat stel om van alle rommel ontslae te raak en hul omgewing op te knap.

Daar sal ook spesifieke punte wees vir herwinbare items soos glas, plastiek, papier, blikkies en skrootmetaal wat geleentheid sal bied vir hulpbehoewendes om ’n inkomste te verdien uit herwinning.

As deel van hierdie opruimingsprojek wil die WDI ’n leersame herwinningsprogram by skole en aan die gemeenskap aanbied om die voordele van herwinning te beklemtoon.

Belangstellendes kan gerus vir Maud bel by tel. 082 324 2252.

Related Articles

Back to top button