Local newsNews

Plaaskos is bobaaskos

Verbeel jou jy staan dou voor dag in die kombuis, jou ma kook weer jou gunstelinggeregte en jou mond water reeds, want jy weet daar is ’n melktert in die yskas om ná kerk te geniet.

Dít is ’n prentjie wat die meeste smulpape goed ken. Dit is boonop sinoniem met samesyn — iets wat vir Suid-Afrikaners van die Wes-Kaap tot hier in Thabazimbi — belangrik is.

Die gemeentelede van die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) in die dorp het twee jaar gelede besluit om ’n projek aan te pak om die dorp se ryk kultuurerfenis en kostradisies te vier met die saamstel en uitgee van ’n resepteboek en vanjaar het dié droom uiteindelik ’n werklikheid geword.

 

Só lyk die pragtige, nuwe resepteboek propvol watertanddisse van toeka tot nou.

 

Boereplaaskos: Van toeka tot onthou is ’n unieke resepteboek met ongeveer 300 watertandresepte van plaaslike mans en vroue wat enige kosliefhebber se mond sal laat water.

Die verhaal van toeka tot onthou begin ’n paar jaar gelede toe die gemeentelede van die APK-Thabazimbi ’n proe-aand gehou het om as gemeente saam te eet, kuier en resepte te deel, maar nooit sou hulle kon dink tot watter groot sukses dié aand sou lei nie.

“Die idee vir die resepteboek het eintlik ná ons kerk se proe-aand gekom. Al die kos was so lekker dat ons besef het die resepte en stories daaragter moet bewaar word vir die nageslagte,” vertel Martmarié Marais, gemeentelid en samesteller van die resepteboek.

“Resepteboeke soos hierdie is nie maar net nog ’n boek nie; dit is ’n belegging in die toekoms van ons kultuur. Dit is ’n manier om tradisies oor te dra en mense se stories te vertel.”

Sedert die resepte vir die eerste keer in dié boek opgeneem is, het die land deurgeloop onder die Covid-19-pandemie en is Suid-Afrikaners gedwing om te isoleer, maar vir baie was die helende krag van kook, eet en geniet ’n uitkoms.

Kontak gerus die AP-kerkkantoor vir meer inligting oor waar die resepteboek verkry kan word.

Related Articles

Back to top button