Local newsNews

Hoeveel polisievoertuie is daar wérklik in Bela-Bela?

Bela-Bela het vermoedelik heelwat minder polisievoertuie beskikbaar as wat die polisie op amptelike dokumente aandui.

Die DA het vrae hieroor in die parlement aan Bheki Cele (nasionale polisiehoof) en genl. Khehla Sitole (nasionale polisiekommissaris) gerig nadat ’n verklaring vroeg in April uitgereik is wat aandui dat Bela-Bela 24 polisievoertuie beskikbaar het.

Die verklaring dui daarop dat nege voertuie beskikbaar is vir sigbare polisiëring, twee vir plaaslike veiligheid (“rural safety”), agt aan die speurtak en vyf vir bystanddoeleindes.

Die 24 voertuie is as “aktiewe voertuie in werkende toestand” gelys.

Plaaslike rolspelers het egter op Woensdag 14 April tydens die jaar se eerste veiligheidsvergadering by die Bela-Bela-polisiestasie ’n verrassing hieroor gekry en besef dié syfer is waarskynlik nader aan nege.

Inwoners, buurtwaglede en ander rolspelers kla reeds geruime tyd oor die gebrek aan polisievoertuie wanneer misdaad aangemeld word.

AO Willemien Bloem, voorsitter van die vergadering, het op ’n vraag van Die Pos gesê die werklike syfers lyk anders as dié wat onlangs uitgereik is.

Volgens haar beskik die Bela-Bela-polisie tans nie oor die twee voertuie wat vir plaaslike veiligheid toegewys is nie. Dié voertuie word deur die streekbestuur in Modimolle gebruik.

Uit die nege voertuie vir misdaadvoorkoming is slegs vier in ’n werkende toestand.

Uit die laaste agt toegewysde voertuie is drie tans werkend en uit die vyf wat op bystand moet wees, is daar na verneem word slegs twee beskikbaar.

Die voertuie wat nie tans gebruik word nie, is glo na die werkwinkel gestuur om gediens of herstel te word.

Daar word boonop ’n personeeltekort by die polisiewerkwinkels ervaar en voertuie bly lank uit diens voordat dit herstel word, het Bloem gesê.

Amptelike terugvoer oor die beskikbare getal voertuie sal met die volgende plaaslike veiligheidsvergadering in Mei gegee word.

Related Articles

Back to top button