Local newsNews

Dubbele vreugde vir Bela-Bela-ouerpaar

Daar was groot vreugde in Theunis en Chantelle van Schalkwyk van Bela-Bela se huis toe perfekgeskape tweelingseuntjies, Daniël Jacobus en Markus Johannes, hul opwagting gemaak het.

Die twee is in Maart vanjaar in die NG Wes-gemeente in die dorp gedoop.

Die Pos het tevore berig oor Theunis en Chantelle se eersgeborene, Stefani (6), wat kort ná haar geboorte met ’n seldsame siekte gediagnoseer is en die moeilike pad wat dié ouerpaar met hul gestremde dogter loop.

Hulle het die afgelope ses jaar geen steen onaangeroer gelaat om vir haar die beste sorg en behandeling te bekom nie.

Met die hulp van die gemeenskap is verskeie fondsinsamelingsprojekte gehou. Chantelle het aan Die Pos gesê hulle het geleer om in genade te leef en dat gebed hulle sterker maak vir uitdagings wat oor hul pad kom.

“Dit gaan nie beter met Stefani se gesondheid nie, maar ons hou moed,” het sy aan Die Pos gesê.

Sy het intussen pankreatitis ontwikkel wat haar gesondheid nog verder knou.

“Sy moes vanjaar in gr. 1 gewees het, maar is nog afhanklik van konstante persoonlike sorg. Ons is baie lief vir haar en sal voortgaan om haar met toewyding te versorg. Daar is dalk mylpale wat sy nie sal bereik nie, maar sy bly steeds ons hart se punt.”

Die tweelingboeties is met die hulp van in vitro-bevrugting verwek. Chantelle het vertel dat hulle drie jaar gelede met die proses begin het nadat hulle ’n kliniek in Sandton, Johannesburg, besoek het. Sy het die proses as baie emosioneel en duur beskryf.

“Ons wou vir Stefani ’n gesonde boetie of sussie kry.”

Die eerste inplanting was onsuksesvol, maar daarna kon die dokters twee embrio’s suksesvol inplant.

Die proses het amptelik in November 2019 begin en in Januarie 2020 het Chantelle gehoor sy is swanger. Die Covid-19-pandemie het die land in Maart verlede jaar getref.

“Ons was deur my hele swangerskap ingeperk en min mense het geweet van ons goeie nuus,” het Chantelle vertel.

“Deur die hele tydperk het Stefani ook behandeling ontvang en pal sorg nodig gehad. Ek was baie bekommerd oor hoe Covid-19 se inperkings die hospitaal sou raak waar ek my bevalling moes hê.”

Die tweeling se geboorte was vir die egpaar ’n onbeskryflike gebeurtenis.

“Ons blydskap het geen perke geken nie,” het Chantelle gesê.

Die tweeling was die eerste twee weke in die hospitaal se intensiewe sorgeenheid. Theunis kon hulle weens die Covid-19-maatreëls nie in hierdie tyd sien nie.

“Die babas was gesond en moes net hul teikengewig bereik voordat hulle kon huis toe kom. Ons harte het oorgeloop van vreugde.”

Chantelle het gesê die tweeling bring vir hulle dubbele vreugde. Stefani was aanvanklik maar “ongelukkig” oor die verdeelde aandag, maar deesdae kan sy nie wag dat haar boeties soggens moet wakker word nie.

Chantelle het gesê sy weet nie wat sy sonder haar man se ondersteuning en onvoorwaardelike liefde sou doen nie.

“Ek dink regtig daar is min pappas wat alles so goed hanteer en die balle in die lug hou soos wat hy dit doen,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button