Local newsNews

Langasem-brakkie ná agt dae veilig tuis

Corona, ’n jaaroue Jack Russel, het gesorg vir groot blydskap toe hy op Donderdag 8 April tuis opgedaag het nadat hy agt dae lank weg was.

Die hondjie heet Corona omdat hy gedurende die eerste week van die vlak 5-grendeltyd in Suid-Afrika gebore is.

Volgens Johann Abrie, sy eienaar, het Corona op Woensdag 31 Maart saam met hom in die bakkie gery na ’n plaas in die omgewing van die Nylstene-fabriek op die Alma-pad. Corona het homself oudergewoonte besig gehou deur insekte en velddiere te jag, maar telkens wanneer Abrie in die bakkie geklim het om te ry, het hy agterop gespring tot by die volgende stilhouplek.

Abrie moes in ’n stadium gou dorp toe ry om onderdele te bekom en het opeens besef dat Corona dié keer nie saamgery het nie. Hy het hom teruggehaas na die plek waar hy vroeër was en orals na die hondjie gesoek, maar moes met leë hande huis toe gaan.

Hy en sy suster se kinders het die volgende twee dae tevergeefs in daardie omgewing gesoek na Corona.

Hy kon sy oë nie glo toe Corona omstreeks 19:30 op Donderdag 8 April sy opwagting op die familieplaas naby Kranskop gemaak het nie.

Abrie vertel: “Ons het vroegaand by my broer, Ampie Abrie, se huis gebraai. Dit is net ’n klein entjie van my huis af. Ek vermoed Corona moes my stem van ver af gehoor het, want hy het reguit tot by die plaashek gestap. Toe Corona my sien, het hy my behoorlik onderstebo gespring van blydskap.”

Volgens Abrie het die hondjie gehawend gelyk. Hy was uitgehonger, vuil en sy pote was nerf-af.

Hy het gou ’n hele pakkie biltong en twee pienk worsies verorber en daarna is hy gebad en gepamperlang.

“Hy het op die bank aan die slaap geraak en die volgende oggend met moeite wakker geword,” het Abrie vertel. “Ons vermoed Corona het in die agt dae van die Alma-pad na Modimolle gestap en daarvandaan na ons plaas naby Kranskop,” het Abrie aan Die Pos vertel. “Dit is padlangs bykans 24 km. Wat my die meeste beïndruk het, is hoe Corona die pad plaas toe opgespoor het. Wie sou kon dink hierdie hondjie is so ’n bobaas spoorsnyer?” het sy eienaar met trots gesê.

Abrie het laggend gesê Corona het nou wel nie ’n opsporingstelsel in nie, maar hy het dadelik vir hom ’n naamplaatjie met ’n telefoonnommer op aan sy halsband laat vassit vir ingeval hy weer ’n langafstandavontuur wil aandurf.

Related Articles

Back to top button