Local newsNews

Liplek-lekkerte in ’n bottel

Die Pos het by Ina Lessing, die Waterberg se alombekende konfytvrou wat die afgelope 26 jaar jêm kook dat die stroop spat, gaan inloer.

Ina en haar man, Danie, woon sedert 1995 op hul plaas Lusthof, ongeveer 7 km buite Modimolle.

Die Pos is baie hartlik ontvang by die Lessings se tuisfabriek op Lusthof. Die soetsuur geur wat in die lug gehang het, afkomstig van 30 kastrolle mangoblatjang wat prut, het die monde laat water. Langsaan het 20 potte kerriebone se geur die lug met ’n pikante aroma gevul.

 

Só lyk die ideale kaasbord, sê Ina Lessing, Modimolle se voorste konfytkoker.

 

Dit was ’n miernes van bedrywigheid soos kastrolle geroer, bone gekerf en bottels gesteriliseer word. Oral het kratte vol vars mangos, turksvye en granate netjies gepak in die stoor gestaan — gereed om verwerk te word.

“Dit is die eerste jaar dat ons nie vir sewe weke Kaap toe is om die appelkose, perskes en vye daar te verwerk en konfyt te kook nie,” het Ina aan Die Pos vertel. “Ons het vorige jare ’n hele vragmotor gepak met al die gasplate, kastrolle en gereedskap wat nodig was om ’n volledige kombuis in Bonnievale op te rig vir die ses tot sewe weke wat nodig was om die vrugte te verwerk. Dit was ’n haarfynbeplande projek. Die werkers het per trein gereis en vir baie van hulle was dit ’n belewenis om vir die eerste keer die see te sien,” het Ina vertel.

“Daar was heelwat faktore wat ons laat besluit het om vanjaar eerder die vrugte met koeltrokke na Pretoria, of direk tot op die plaas in Modimolle, te vervoer. My dogters, Jana en Nicolet Lessing, het einde 2020 amper ’n volle maand in die Kaap deurgebring sodat hulle vye by verskillende vrugteboere kon koop, want ons jarelange verskaffer het sy plaas verkoop en al die vyebome is deur die nuwe eienaar uitgehaal. Hoewel ons gewoonlik ongeveer tien ton vars vye per seisoen verwerk, is ons dankbaar dat ons uiteindelik vanjaar agt ton vars vye kon verwerk,” het sy gesê.

Volgens kenners is daar glo wêreldwyd 600 verskillende vyevariëteite, maar vir kommersiële verbouing in Suid-Afrika is die Evita, ook genoem Parisian-vye, met ’n donkerpers skil en rooipienk vlees, die gewildste.

Adamsvye, wat ook ’n donkerpers skil het, is een van die eerste vyevariëteite wat destyds in Suid-Afrika geplant is, het Ina vertel.

Daar is geen perke aan haar kreatiwiteit nie en sy geniet ’n uitdaging, soos toe sy gevra is om ’n reeks maroelaprodukte te maak.

“Die meeste mense ken net maroelajellie, maar ons het ook ’n kombinasie met brandrissies gemaak. Die heel maroelas is ingelê om saam met roomys te bedien en ons het konfyt en blatjang van die skil gemaak,” het sy aan Die Pos vertel.

Terwyl Ina bykans 15 jaar lank ses dae per week alleen die konfytkook behartig het, het Danie die aankope, landwye verspreiding en aflewerings hanteer.

Die tuisfabriek het mettertyd gegroei en hulle het 20 voltydse werkers op die plaas in diens geneem.

Die bekende bottels met hul goue etikette is orals in Suid-Afrika, en ook in Namibië, te koop.

Deesdae is vier van die egpaar se vyf kinders voltyds by die familieonderneming betrokke. Ané (van der Walt) behartig die bemarking en bestellings, Natan (Lessing) staan sy ma se skoene in die kombuis vol, Jana (Lessing) is ’n gekwalifiseerde rekenmeester en behartig die finansiële sy van die onderneming terwyl Nicolet (Lessing) aan die stuur van die tuisgebakte koekieafdeling staan.

Om te sien hoe Natan se jongste seuntjie aan sy oupa Danie se broekspype hang terwyl sy sussie help met stuurwerkies tussen haar ma, ouma Ina en haar tannies, voel soos ’n terugblik na toeka se “lewe op die plaas”.

Outydse gasvryheid staan geil op hierdie plaas, want niemand gaan leë hande daar weg nie.

Twee bottels louwarm mangoblatjang word saam huis toe gestuur, met vars granate en turksvye, asook ’n pakkie goudgeel vlakoekies — presies net soos ons oumas dit gemaak het.

Related Articles

Back to top button