Local newsNews

Inwoners herstel nóg slaggate

Inwoners van Modimolle wat betrokke is by die Slaggatprojek, Adopt a pothole, het op Maandag 29 Maart en Dinsdag 30 Maart vir die tweede en derde werksessies aangemeld, saam met die span werkers van die plaaslike munisipaliteit se departement van paaie en stormwater.

Die Pos het met Sarie van den Berg, projekkoördineerder, gesels.

“Daar is die afgelope twee dae amper 100 slaggate in Boshoffstraat herstel. Ons is opreg dankbaar vir elke skenking en elkeen wat gehelp het; selfs al was dit net om yskoue water of koeldrank aan te dra,” het sy gesê.

“Die motorhandelaar Waterberg Toyota het in Maart 100 sakke teermengsel geskenk. Daar was selfs inwoners wat hul tyd en kundigheid geskenk het om die plaatkompakteerder se lugfilter te herstel,” het sy aan Die Pos gesê.

“Daarmee saam het ons bykomende skenkings van 20 sakke teermengsel ontvang om ’n deel van Buffalostraat, naby die hoek van Boshoffstraat, te herstel waar die skade aan die teeropppervlak baie sleg was. ’n Groot gedeelte van die pad het verbrokkel.”

Intussen is daar ook onderhandel om dieselfde teermengsel-sakke (25 kg) teen die groothandelprys te koop. Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het intussen voorgestel dat werkers self die teermengsel maak met bitumen (vloeibare laegraadru-olie) en gruisklippe.

Die verdere opgradering van Boshoffstraat word nou beplan. * Die burgerregte organisasie AfriForum is ook deurlopend besig met die herstel van slaggate in Modimolle.

Die Pos het op Vrydag 26 Maart met James van Zyl, voorsitter van AfriForum se Modimolle-tak gesels.

 

Die burgerregte organisasie AfriForum herstel ook deurlopend slaggate in Modimolle. Hier is James van Zyl, voorsitter van AfriForum se Modimolle-tak, saam met twee werkers besig om slaggate in van Niekerkstraat te herstel.

 

Van Zyl het gesê ongeveer 1,5 ton sand en gruismengsel is gebruik om die slaggate in Kerk-, Van Niekerk- en Friedbergstraat te vul. Daar is heelwat slaggate wat al dieper as 15-20 cm is en dus nie net met ’n teermengsel gevul kan word nie.

’n Sementmengsel, soortgelyk aan ’n bouersmengsel vir fondasies, word daarom gebruik om ’n stabiele basis te vorm.

Sodra die sementmengsel goed droog is, kan die slaggate bedek word met ’n 3 cm dik teerlaag, het Van Zyl gesê.

“AfriForum het die afgelope twee jaar ongeveer R25 000 se teermengsel gekoop vir die herstel van slaggate in Modimolle. Hierdie geld kom uit lede se ledegeld by die Modimolle-tak asook skenkings. Ons wil graag saam met ander selfdoengroepe werk, want ons is almal belastingbetalers wat nie die verpligte of beloofde munisipale dienste ontvang nie,” het Van Zyl gesê.

Related Articles

Back to top button