Local newsNews

Geliefde oudsakeman van Bela-Bela sterf

Bela-Bela het die afgelope week afskeid geneem van ’n bekende en geliefde oudsakeman, Fanie van Staden (80), wat op Donderdag 1 April in die Phodi Kliniek in die dorp oorlede is.

Van Staden is verlede jaar met longkanker gediagnoseer.

Hy het in die Elandsfontein-omgewing buite Bela-Bela grootgeword en was ’n leerder van Laerskool en Hoërskool Warmbad.

Hy sal onthou word as ’n geesdriftige sportman wat sy alma maters se spanne tot onlangs ondersteun het.

Hy en sy gesin het die Sonskyndorp vir ’n tyd verlaat en weer in 1990 vanaf Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek teruggekeer. Hy het op daardie stadium ’n vakansiewoonstelkompleks gekoop wat hy uitgebou het tot ’n groot onderneming.

Sy vrou, Christa, wat jare lank ’n onderwyser by Laerskool Warmbad was, het aan Die Pos gesê hulle het destyds teruggekeer Bela-Bela toe danksy Fanie se liefde vir die Bosveld. Hy kon nie wag om sy seuns in die Bosveld groot te maak nie, het sy gesê.

Fanie het die Dula Monate-woonstelkompleks in Moffatstraat besit en bestuur voordat hy later die Glasman-onderneming saam met sy broer, Pieter, begin het. Christa onthou hoe die gesin en gemeenskap in hul tyd by Dula Monate toestemming van die destydse stadsraad bekom het om gereelde straatbraaie te hou.

Fanie was ’n joviale persoon en dit was vir hom lekker om oud en jonk te betrek by sosiale geleenthede. Hy het as sakeman diep spore getrap en ná sy aftrede steeds sy vinger op die pols gehou deurdat hy ander sakelui gereeld besoek en oor die dorp se ontwikkeling en uitdagings gesels het.

Fanie was ’n bekende gesig wat die dorp met sy resiesfiets platgery het. Hy het ophou fietsry nadat hy in 2019 ’n fietsongeluk gehad het, maar stilsit was steeds nie in sy woordeskat nie. Hy het toe lang staptogte onderneem en was bekend vir sy vriendelike wuif as menseverby hom ry.

Die familie bedank vir ds. Neels van Tonder en sy vrou, Anel, wat weekliks vir Van Staden gaan kuier het en hom baie ondersteun het toe sy gesondheid verswak het.

Van Staden se begrafnis het op Woensdag 7 April vanuit die Hervormde Kerk in die dorp plaasgevind.

Hy laat sy vrou, Christa, broer Pieter, drie seuns, ’n dogter, sy kleinkinders en agterkleinkinders agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button