Local newsNews

Anargie heers op Bela-Bela-paaie oor Paasnaweek

“Ons het hulp nodig!” het ’n angsbevange passasier die afgelope naweek die koerant laat weet terwyl sy en ’n ander vroulike motorbestuurder in ’n chaotiese verkeersituasie buite Bela-Bela vasgevang was.

Videomateriaal toon hoe tot vyf voertuie op Maandag 5 April op die enkelpad tussen die Klein-Karibavakansieoord en Bela-Bela langs mekaar ry — teen die verkeer in, langs die kant van die pad op die grondgedeelte en sommige teen ’n verbysterende spoed.

Een leser het aan Die Pos gesê dit het haar sowat vier uur geneem om dié ongeveer 7 km af te lê. Talle inwoners het foto’s en videomateriaal aan Die Pos gestuur wat die wetteloosheid en frustrasie van padgebruikers toon.

Die verkeersdruk word daaraan toegeskryf dat talle motorryers die drukverkeer by die tolhekke op die N1-snelweg wou vermy en daarom besluit het om die ou R101 deur Bela-Bela te neem. Provinsiale verkeersowerhede het verskerpte optredes vanaf Donderdag 1 April gehandhaaf, maar daar was nogtans vier noodlottige ongelukke op die R524-pad in die Vhembe-distrik, die D856-pad in Sekhukhune, die R81 in Giyani en die R101-pad tussen Maubane en Pienaarsrivier.

Volgens inligting van die provinsiale verkeersafdeling het altesame tien mense die afgelope Paasnaweek in Limpopo in motor-ongelukke gesterf. Ook in Modimolle het inwoners gekla dat roekelose motorryers die stopstrate ignoreer en só die lewens van hul passasiers en ander motorryers in gevaar gestel het.

Kabelo Mosito, woordvoerder van die Bela-Bela-munisipaliteit, het by navraag aan Die Pos gesê hoewel daar in die verlede druk verkeer deur Bela-Bela beleef is, was dit die eerste keer dat daar soveel chaos en roekeloosheid beleef is.

“Daar is verkeersbeamptes by die ingang na die Bela-Bela-township, die Waterfront en in die sentrale sakesektor ontplooi. Al is die beplanning hóé goed gedoen, kon niemand voorsien dat motorryers só roekeloos sou wees nie.”

Die Bela-Bela-polisie, asook van die buurtwaglede, se hulp is later ingeroep om voertuie te help herlei. Rika Kruger, DA-raadslid, het in reaksie gesê bekwame verkeersowerhede sou op dae soos Maandag geweet het om reeds 10 km buite die dorpsgrense te begin om die verkeer te reguleer en wet en orde toe te pas.

Beamptes moes voorsien het dat toegangsroetes gesluit moes word sodat die verkeer makliker kon vloei.

Wetsoortreders moes summier boetes opgelê geword het.

“Dit sou gehelp het as alle motorryers die verkeersreëls gehoorsaam het deur by stopstrate stil te hou, korrekte volgafstande te hou en op die bevele van verkeersbeamptes te reageer. Ongelukkig is daar altyd diegene wat kanse vat.”

Die plaaslike gemeenskappolisiëringsforumbestuur (GPF) het lede bedank wat gehelp het om die verkeersvloei te verbeter.

’n Vergadering tussen amptenare en gemeenskapsleiers is reeds belê om onder meer die funksie van die verkeersafdeling te bespreek.

Related Articles

Back to top button