Local newsNews

AfriForum op soek na vrywilligers uit Bela-Bela-geledere

Die burgerregte-organisasie AfriForum in Bela-Bela verkies eersdaags ’n nuwe bestuur en is op soek na geskikte kandidate.

AfriForum is veral in die Waterberg bekend vir hul positiewe bydraes tot plaaslike gemeenskappolisiëringsforums (GPF) en buurtwagte.

Hulle is ook betrokke by voedselprojekte en verleen hulp aan minderbevoorregte inwoners. Die organisasie dra die belange van skoolkinders op die hart.

AfriForum het hulle die afgelope paar jaar toegespits op diensleweringsprobleme in verskeie munisipaliteite.

Die organisasie het onder meer in Maart diensleweringsprobleme in die Modimolle-Mookgophong-gebied aangespreek en ’n hofbevel verkry om die munisipaliteit te dwing om watervoorsiening te verbeter. AfriForum-lede is ook geruime tyd betrokke by die herstel van slaggate en opknappingswerk in parke, strate en begraafplase in die omgewing.

Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum se provinsiale koördineerder, het aan Die Pos gesê AfriForum is besig om die Bela-Bela-tak te herstruktureer en hulle is op soek na bekwame en gewillige mense in die gemeenskap om in belang van inwoners op te tree.

Dit moet mense wees wat die hele gemeenskap se belange op die hart dra, het sy benadruk.

“Die regering plaas gereeld gemeenskappe onder druk omdat hulle nie hul verantwoordelikhede nakom nie. Dit lei tot swak dienslewering, onveilige woonbuurte en besoedelde dorpe, riviere en omgewing,” het sy gesê.

“As AfriForum-verteenwoordigers wil ons ’n vrye en veilige omgewing vir inwoners skep en daarom nooi ons belangstellendes om in te skakel en deel te vorm van ’n beter toekoms vir almal.”

Die vakante poste in die Bela-Bela-tak is dié van sekretaris, jeugverteenwoordiger, plaaslike regeringsverteenwoordiger en mediaskakelbeampte.

Janes Boshoff, huidige takvoorsitter, het aan Die Pos bevestig dat hy gaan uittree as voorsitter.

Belangstellendes word genooi om met Jansen van Vuuren in verbinding te tree by tel. 081 216 9570. ’n Amptelike verkiesingsdatum sal later bekendgemaak word.

Related Articles

Back to top button