Local newsNews

Outydse melktert altyd ’n wenner

Die susters van die Gereformeerde Kerk se Waterberg-gemeente in Modimolle het op Donderdag 25 Maart vroegoggend bymekaar gekom en in ’n japtrap meer as 200 melkterte vir hul gemeente se fondsinsamelingsprojek gebak.

Daar was ’n gesellige atmosfeer in die Lessings se plaaskombuis terwyl die deeg papierdun uitgerol is en vlavulsel gekook en per hand geklits is.

Laastens is die kaneel deur ’n patroonplaat gestrooi vir ’n kunstige effek bo-op elke melktert.

Nicolet Lessing, dogter van die alombekende Ina Lessing, het gesorg dat die bakproses saam met die gemeentesusters se vaardigheid en hulp seepglad verloop.

“Ons het die melktertprojek begin ter viering van Nasionale Melktertdag op Saterdag 27 Februarie en altesame 235 melkterte gebak. Omdat die projek so suksesvol was, het mense ons gevra om weer te bak,” het Ina aan Die Pos gesê.

Die datum van die volgende Melktertdag is nog nie bevestig nie, maar Die Pos hoop dit is binnekort, want ons het heerlik saamgesmul en kan beslis hierdie melkterte aanbeveel.

Related Articles

Back to top button