Local newsNews

Knap handwerk en handewerk

Die Vroue Landbou-unie se Nylstroom-tak in Modimolle se tweede byeenkoms van die jaar het op Dinsdag 16 Maart by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle plaasgevind.

Die tema het gehandel oor artikels wat die vroue tydens die grendeltydperk in 2020 gemaak het.

“Dit was wonderlik om al die pragtige handgemaakte artikels te sien,” het Elsa du Plessis, skakelbeampte van die Nylstroom-tak, aan Die Pos vertel.

Daar is gewoeker met talente en ’n uiteenlopende verskeidenheid artikels is ten toon gestel.

Onder die handwerk artikels was daar hekel- en breiwerk, deurgestikte dekens (kwilts) en ’n groot verskeidenheid naaldwerkitems.

Onder die kunswerke was daar potloodsketse met die fynste detail, kleurvolle skilderye, mosaïekartikels te kies en te keur en nog talle ander kunsvorms. Daar was ook smullekker konfyte en ingemaakte vrugte.

Huise is van bo tot onder skoongemaak en baie lede het van onnodige items ontslae geraak of dit aan behoeftige instansies geskenk.

Sommige vroue het ook groot projekte buite die huis aangepak soos die bou van hoender- en varkhokke.

Tuinmeubels is geverf, tuine se uitleg is verander en een VLU-lid het spekboompies gekweek en vir elkeen teenwoordig ’n plantjie as geskenk gegee.

Die Nylstroom-tak het ’n tweedeplek tydens die 20ste VLU-Soetdoringstreekkonferensie op Saterdag 13 Maart in Mokopane behaal.

Die volgende byeenkoms het “kultuur” as tema en word beplan vir Dinsdag 20 April by die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle.

Belangstellendes kan vir Elsa du Plessis bel by tel. 082 707 9506.

Related Articles

Back to top button