Local newsNews

Nuwe eienaars van Castle de Wildt het groot planne vir Modimolle

Die alombekende Castle de Wildt-landgoed net buite Modimolle is onlangs per openbare veiling aan Gys Pitzer, ’n suksesvolle sakeman van Pretoria en eienaar van Gys Pitzer Motors, verkoop.

Die Pos het by Pitzer gaan uitvind wat hy by “Die Kasteel” — soos dié geliefde baken onder inwoners bekendstaan — beplan.

Pitzer het sy motorhandelsaak 21 jaar gelede begin en sedertdien uitgebrei na drie takke in Pretoria wat gebruikte voertuie koop en verkoop. Hulle verkoop ook nuwe voertuie.

“Om motors te verkoop, is my passie. Castle de Wildt is ’n sakeonderneming met ’n goeie reputasie en daarom wil ek graag daarmee assosieer en dit met my bestaande sakeonderneming kombineer,” het Pitzer aan Die Pos gesê. “Ek ken die Waterberg-distrik baie goed en werk al die afgelope 12 jaar saam met Jaco de Jager, inwoner van Modimolle, om gebruikte voertuie in Limpopo te koop. Sedert ons Castle de Wildt gekoop het, het De Jager ook gehelp met die verkryging van kwotasies by plaaslike diensverskaffers vir die opknappingswerk waarmee ons besig is,” het hy gesê.

Daar word tans ywerig gewerk om die geboue binne en buite op te knap, asook algemene instandhouding van die wildskampe, tui- ne, damme en besproeïngstelsels. Daar word ook ’n kragopwekker en bykomende kragvoorsieningstelsel geïnstalleer om elektrisiteit te voorsien tydens kragonderbrekings.

Castle de Wildt sal deur Anneh Pitzer, Gys se vrou, bestuur word, terwyl Chris Dyzel, die bestaande operasionele bestuurder, sal aanbly in sy posisie.

Gys en Anneh is reeds 19 jaar getroud en hul drie kinders Gys, Henning en Anje sien uit om in die Waterberg te kom woon.

Die Pitzer-egpaar is ’n dinamiese span en beoog om eersdaags ’n bemarkingsveldtog te loods om Castle de Wildt as ideale trouplek uit te lig.

“Daar word beoog om ’n wittebrood- en bruidsuite aan te bou, asook twee ekstra kamers vir akkommodasie,” het Pitzer gesê.

“Ons beplan om in die toekoms gereeld verskeie kunstenaars vir optredes te nooi en informele Sondagmiddagetes aan te bied.”

“Ons is tans in gesprek met Wildlife Ranching South Africa (WRSA) om ook voort te gaan met veilings van wild, beeste en skape. Die bywoning van veilings by dié gewilde veilingslokaal het weens die Covid-19-regulasies afgeneem, maar ons vertrou dat die situasie gou weer sal herstel,” het Pitzer gesê.

  • Die naam Gys Pitzer lui dalk ’n klokkie by baie mense. Gys se pa was die legendariese Blou Bul-rugbyspeler Gys Pitzer wat in 1939 in Louis Trichardt gebore is.

    Hy het vanaf 1967 tot 1970 as haker vir die Springbokke uitgedraf. Rugby is duidelik in hierdie familie se DNS want Gys het self vir die Blou Bulle en die Valke rugby gespeel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button