Local newsNews

Skool ontruim nadat EFF dreig met protesoptrede

Die bestuur en personeel van Hoërskool Warmbad het die skool op Vrydag 19 Maart ontruim nadat lede van die EFF gedreig het om ’n protesoptrede by die skool te hou.

Daar was die hele dag ’n swaar polisie- en ouerteenwoordigheid by die skool, maar geen optogte of ander voorvalle is aangemeld nie.

Die beplande optog spruit uit ’n voorval vroeër die maand waar ’n leerder ’n video geneem het van ’n ander leerder wat glo deur twee personeellede gekonfronteer word.

Die video, wat Die Pos onder oë gehad het, is sowat vyf sekondes lank. Die skool is daarna op sosiale media van rassisme beskuldig.

Paul Liddle, skoolhoof, het egter by navraag aan Die Pos gesê die video is “buite konteks” op sosiale media versprei.

Die video is volgens hom geneem nadat ’n leerder vermoedelik met dwelms betrap is. Die leerder het daarna botweg geweier om ’n dwelmtoets te ondergaan.

Volgens Liddle is alle dissiplinêre stappe teen die leerder korrek gevolg en die voorval is as afgehandel bestempel. Die leerder se naam word weerhou omdat hy minderjarig is.

Polisielede van Bela-Bela en Modimolle, asook buurtwaglede, is Vrydag op ’n gereedheidsgrondslag by die skoolhekke geplaas om die leerders en die skool se eiendom te beskerm.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus, was ook by die skool teenwoordig.

Ouers is die vorige aand ingelig van die beoogde protesoptog en is verwittig daarvan dat alle skoolingange om veiligheidsredes gesluit sal wees.

Die akademiese program het normaalweg begin, maar die besluit is net ná 10:00 geneem om leerders om veiligheidsrede huis toe te stuur nadat die EFF op sosiale media volgehou het met dreigemente dat hul protesoptrede sal plaasvind. Andries Moswoeu, huidige EFF-raadslid, het mense aangemoedig om aan die protesaksie deel te neem, maar die optog het nooit plaasgevind nie.

Kol. Pule Moselane en lt. kol. William Ngobeni van die Bela-Bela-polisie het later die dag ’n dringende vergadering by die munisipaliteit tussen die EFF, die skool se beheerliggaam, lede van die departement van onderwys en ouers belê om die ongelukkigheid op te klaar.

Die Pos het toegang tot die vergadering gehad. Die vergadering is gekenmerk deur emosionele en uitgerekte stellings, maar daar is uiteindelik besluit om weer op Dinsdag 23 Maart by die skool te vergader.

Die leerders en personeel wat by die voorval betrek is sou teenwoordig wees. Afgevaardigdes het saamgestem dat die verspreiding van vals inligting op sosiale media groot skade aan opvoedkundige instansies veroorsaak en ook dat dwelms glad nie op skoolterreine geduld kan word nie.

  • Teen druktyd was die uitslag van Dinsdag se vergadering onbekend.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button