Local newsNews

Covid-19: Een jaar later: Só onthou ons die soet en suur van 2020

Die jaar 1992 was een wat die koningin van Engeland liefs, as sy kon, ver sou wegbêre en vergeet.

Dit was haar “annus horribilis” het sy die Latynse frase gebruik om dié “verskriklike jaar” te beskryf. Dit was die jaar waarin drie van haar kinders se huwelike op die rotse beland het.

Prins Charles en prinses Diana se sprokieshuwelik was aan skerwe en die koningshuis het gesteier onder die vernedering en skande van foto’s van die rooikop Fergie se manewales langs ’n swembad.

Dan was daar boonop ’n vernietigende brand wat ’n groot deel van die koningin se pragtige Windsor-kasteel in puin gelê het. Die jaar 2020 was in soveel opsigte wêreldwyd almal se “annus horribilis”.

In hierdie week se uitgawe van Die Pos, waarin ons terugkyk op een jaar sedert die Covid-19-inperkings in Suid-Afrika ingestel is, kan ’n mens nie anders as om net verlig te sug as jy die jaar fisiek en emosioneel oorleef het nie.

Die Pos se uitgawe van 20 Maart 2020 lyk soos iets uit ’n rillerfliek: ’n Skoolkind wat op ’n verlate skoolterrein met ’n masker op haar gesig stap. Massahisterie het toe reeds uitgebreek en skole genoop om hul hekke vroegtydig vir die April-vakansie te sluit.

Mense het winkels toe gestroom om toiletpapier, kos en drank te koop. Binne een week is skole en tersiêre instellings almal gesluit en sportgeleenthede, kerkdienste, musiekfeeste en ander byeenkomste afgelas.

Die media het spesiale toestemming gekry om hul werk as nooddienswerkers voort te sit, maar ons kon net nog een koerant (die een van 3 April) op straat laat verskyn. Daarna is bykans al die koerant se afleweringspunte gesluit en ons is gedwing om ons nuus slegs aanlyn vir ons lesers te bring.

Binne die volgende vyf weke het hartverskeurende tonele hom in die dorp afgespeel: Die strate het soos dié van ’n spookdorp gelyk, sakeondernemings het hul deure een na die ander permanent gesluit. Mense het oornag hul werke verloor.

Daar was paniek, hongersnood en ’n algehele gevoel van verlatenheid by talle mense. Die eerste gedrukte uitgawe van Die Pos kon eers weer vyf weke later — op Vrydag 8 Mei — verskyn.

In dié uitgawe het ons berig oor paartjies wie se huweliksfeeste uitgestel moes word, sakeondernemings met trotse tradisies wat op hul knieë gedwing is en die gewone landsburger se stryd om oorlewing.

Vir die eerste keer in dekades was die N1-snelweg dolleeg, verlate, en dít oor Paasnaweek. Daar was letterlik nie ’n voertuig op die pad nie, behalwe dié van die polisie, enkele nooddienswerkers en Die Pos se fotograaf.

Ons het berig oor haarkappers, eienaars van drankwinkels, restaurante, vakansieoorde, spa’s en mense in die vermaaklikheidsbedryf wat die heel swaarste getref is. Van hulle het nou nog nie op ekonomiese gebied herstel nie.

Daar was ook die mooi stories. Stories van bure wat vir mekaar eetgoed oor die heinings aangegee het. Die dominee wat elke aand om 18:00 die kerkklok gelui en “Bly by my Heer” op sy trompet gespeel het. Mense wat die nood om hulle raakgesien en kospakkies verpak en versprei het.

Verlede jaar dié tyd was ons in die middel van die somer toe die inperking afgekondig is. Daarna het ons tuis ervaar hoe die blare begin verkleur en die aande koeler geraak het. Opeens was ons almal in ’n diep winter. Letterlik en figuurlik.

Vandeesweek — presies een jaar later — bring ons hulde aan almal, elke liewe leser van Die Pos, wat dié jaar oorleef het.

Related Articles

Back to top button