Local newsNews

Covid-19: Een jaar later: Die Koffiekan in Modimolle kán

“Die Covid-19-grendeltyd het ons geleer hoe om te rethink, regroup en re-do.”

Só sê Marise Viljoen aan Die Pos presies een jaar sedert vlak 5 Covid-19-regulasies Suid-Afrika tot ’n stilstand gedwing het.

“Dit is nou een jaar later en die ekonomiese klimaat voel vir my amper erger as einde 2020,” het Viljoen gesê.

“Die grendeltydperk het steeds ’n geweldige invloed op ons restaurant omdat ons baie afhanklik is van naweektoerisme wat tans aansienlik minder is as in vorige jare.”

Volgens haar het Covid-19 hulle laat besef dat dit nodig is om gereeld hul sakeonderneming te evalueer, want die omstandighede verander voortdurend.

 

Die windpomp by die Koffiekan-plaaswerfrestaurant in Modimolle dien steeds as ’n baken vir inwoners en besoekers dat dit die bestemming is vir heerlike kos en flinke diens.

 

“Ons moet konstant bly groei en vernuwe om suksesvol te bly. Die outydse gesegde wat lui dat ’n mens nie al jou eiers in een mandjie moet sit nie, het my ook aangespoor om te diversifiseer en bykomende bronne van inkomste te volg,” het Viljoen gesê.

Sake-ure is ook sedert die grendeltyd aangepas. Volgens Viljoen was dit ’n deurdagte besluit en werk dit eintlik beter om Maandae tot Donderdae net tot 18:00 oop te wees en slegs op Vrydagaande tot so laat as wat die aandklokreël dit toelaat. Saterdae en Sondae is die restaurant oop vanaf 08:00 tot 14:00.

“Die regering se nuwe wetgewing rakende die minimumlone, asook die bykomende begrafnisdekking- en pensioenfondsbydraes wat werkgewers nou ook moet betaal, plaas verdere druk op sake-eienaars om kop bo water te hou. Ons moes noodgedwonge tydens die streng inperking ongeveer 20% van ons personeel aflê, maar ons werk hard om te verseker dat daar nie verdere afleggings sal wees nie, want ons besef deeglik hoe afhanklik werkers en hul families van hierdie inkomste is.”

Viljoen het verder verduidelik watter planne hulle gedurende die vlak 4- en 3-grendeltyd gemaak het om die wiel aan die rol te hou.

“Ons het die spyskaart vereenvoudig sodat ons met die minimum kombuispersoneel kon klaarkom en het begin om wegneemetes aan te bied. Mense het die keuse gehad om dit self te kom afhaal of om ’n minimale afleweringsfooi te betaal om dit tuis te laat aflewer. Veral ons pizzas was in hierdie tyd baie gewild,” het sy gesê.

“Ons is opreg dankbaar vir al die inwoners wat ons lojaal bly ondersteun het. As dit nie vir hulle was nie, sou ons nie kop bo water kon hou nie,” het Viljoen benadruk.

Die Koffiekan was oorspronklik slegs ’n koffiewinkel toe dit in 2007 geopen is, maar het in Maart 2018 verskuif na die nuwe plaaswerfperseel en die naam is toe verander na Koffiekan-plaaswerf Restaurant.

Related Articles

Back to top button