Local newsNews

Bela-Bela-inwoners belê dringende dorpsvergadering oor dienslewering

Die Bela-Bela belastingbetalersforum (BBTF) het ’n dringende gemeenskapsvergadering belê om die dorp se ernstige diensleweringsprobleme te bespreek.

Die vergadering vind op Saterdag 27 Maart om 14:00 by Laerskool Warmbad plaas en inwoners word versoek om die vergadering by te woon.

Covid-19-protokol sal streng gevolg word. Die krake in die Bela-Bela-munisipaliteit se dienslewering het sedert die inperkingstyd al hoe duideliker begin wys.

Die munisipaliteit, inwonersverenigings en Die Pos word die afgelope jaar oorval met klagtes oor die gebrek aan dienslewering in die dorp.

Waterlekke, kragprobleme, oortollige heffings, foutiewe straatligte, paaie wat onbegaanbaar is, vullis wat die dorp ontsier en die gebrek aan instandhouding aan munisipale infrastruktuur word gereeld aangemeld.

Daar is ook ongekende klagtes oor die dienslewering by die dorp se verkeersafdeling in Van der Merwestraat. Inwoners van veral Noodhulp en Bospoort is raadop met aanhoudende water- en kragtoevoerprobleme. Inwoners kla ook dat die munisipaliteit glad nie op hul oproepe reageer nie.

Die Pos het verlede week berig stakende vakbondlede wat Bela-Bela se strate vervuil het en ook skade aan die munisipale gebou in die hoofstraat aangerig het toe hulle waterkrane in die gebou oopgedraai het en vullis in die diensleweringsentrum gestrooi het.

Johan Mills, BBTF-voorsitter, het aan Die Pos gesê hy het reeds die nodige toestemming van die plaaslike polisiekantoor gekry dat 250 mense die vergadering mag bywoon.

Hy het beloof dat alle Covid-19-protokolle gevolg sal word.

Vir navrae kan mense vir Daleen Steynberg bel by tel. 082 787 5067.

Related Articles

Back to top button