Local newsNews

Hoe raak komende verkiesing Thabazimbi se inwoners?

Suid-Afrikaners sal na alle waarskynlikheid in Augustus vanjaar hul kruisies kan trek om hul nuwe plaaslike regerings te verkies.

Die Pos-koerant het die afgelope week ’n besoek aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se kantoor in Thabazimbi gebring en verneem dat minder as die helfte van Thabazimbi se inwoners tans geregistreer is om hul kruisies in die 2021-verkiesing te trek.

Rdl. Thane Hearne, munisipale speaker, het ’n beroep op inwoners gedoen om so gou moontlik ’n draai by die OVK-kantoor te maak om te registreer vir die komende verkiesing.

“Dit is uiters belangrik dat inwoners hul registrasiebesonderhede voor die verkiesings vir plaaslike regering by die OVK moet nagaan,” het Hearne verduidelik.

“As inwoners inspraak wil hê oor wie die dorp bestuur, moet hulle die reg om te stem uitoefen en om dit te kan doen, moet hul korrek geregistreer wees.”

Kiesers sal tydens die munisipale verkiesing slegs in die wyk waar hulle geregistreer is, kan stem. Mense wie se naam nie op die kiesersrol verskyn nie, sal nie kan stem nie.

Hoewel die finale datum vir die 2021-verkiesing nog nie afgekondig is nie, word daar verwag dat die verkiesing, soos die 2016-verkiesing, in Augustus sal plaasvind. Inwoners het dus slegs ses maande oor om hul registrasie na te gaan.

“Inwoners moet sorg dat hulle deeglik ingelig is,” het Hearne verder gemaan. “Dit is belangrik om alle moontlike inligting vooraf te kry sodat kiesers verantwoordelik kan stem.”

Registrasies kan tydens kantoorure by die OVK se kantoor op die hoek van Judith- en Van der Bijlstraat gedoen word. Die OVK sal ook later vanjaar registrasienaweke aanbied waartydens registrasies kan plaasvind.

Voornemende kiesers kan hul inligting aanlyn nagaan by: elections.org.za/pw/Voter/Voter-Information of kontak die Onafhanklike Verkiesingskommissie by tel. (014) 772 3182.

Related Articles

Back to top button