Local newsNews

Danny Doman se ster skitter steeds

Danny Doman, ’n talentvolle jong man van Modimolle, is gewoond aan die kollig sedert hy in 2020 een van die Toptiensemifinaliste van die Mnr. Suid-Afrika-kompetisie was.

Hy het pas deurgedring na die tweede ronde van ’n nuwe kompetisie naamlik Mr Unseen South Africa. Hierdie kompetisie is vir die eerste keer in 2020 aangebied en plaas groter klem op liefdadigheid- en gemeenskapswerk.

Doman is ’n bekende gesig in die dorp en betrokke by verskeie liefdadigheidsorganisasies soos Klub Helpmekaar, Modimolle Victim Support Center en die Abraham Kriel-kinderhuis.

Hy het aan Die Pos vertel hy gee berading aan jong slagoffers van geweld en probeer hulle motiveer om bo hul omstandighede uit te styg.

Hy is ’n jeugpredikant by die NG-gemeente Nylstroom-Oos en bedryf ’n model- en dansskool, asook ’n fotografie- en vermaaklikheidsonderneming in Modimolle.

“Ek het ingeskryf vir Mr Unseen SA-kompetisie omdat ek voel ons generasie jongmense benodig realistiese rolmodelle wat werklik probeer om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak.”

Doman is in 2016 met Bianca getroud en is die pa van ’n woelige tweejarige seuntjie. Hy is die oudste van vyf kinders. Sy ouers woon die afgelope vyf jaar in Thabazimbi.

Die Mr & Ms Unseen South Africa-kompetisies is in Januarie 2020 deur Charina Joubert, voormalige finalis van die Mev. Suid-Afrika-kompetisie, bekendgestel. Dit sluit ’n model-akademie met takke in Kaapstad en Johannesburg in.

Joubert het aan Die Pos verduidelik hoe die nuwe kompetisie werk.

“Deelnemers moet ouer as 20 wees en skryf elektronies in met ’n motiveringsbrief. Die beoordeling van die eerste ronde is slegs gebaseer op hierdie briewe en beoordelaars moet wag tot die tweede ronde — wat op Saterdag 3 Julie plaasvind — om die deelnemers vir die eerste keer te sien. Hierdie unieke konsep is deel van ons strategie om weg te breek van die modelbedryf se vooropgestelde idees van uiterlike skoonheid. Ons wil mense met ’n hart vir hul gemeenskappe uitlig en fokus op die slagoffers van geslagsgeweld.”

Altesame 15 deelnemers dring deur na die finale ronde wat op Saterdag 9 Oktober in Kaapstad plaasvind, het Joubert gesê.

  • Skandeer die foto in die gedrukte uitgawe van Die Pos met jou slimfoon deur die PixzAR-toep om die video te sien.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button