Local newsNews

Boerevereniging herstel slaggate

Die Springbokvlakte-boerevereniging het tydens hul onlangse maandvergadering besluit om die groot aantal slaggate wat op die R576-pad tussen die N1-snelweg en Settlers is, self te herstel.

Die herstel van paaie is die verantwoordelikheid van die provinsiale padagentskap. Hulle versuim egter al jare lank om dié pad in stand te hou en toestand van die pad hou aan versleg.

Die pad hou deesdae ’n ernstige gevaar vir motorryers in.

“Die pad, wat in 1983 gebou is, is al jare lank vol slaggate. Die gebrek aan instandhouding lei daartoe dat die pad baie gevaarlik is,” het Willem van der Walt, boerevereniging-voorsitter, aan Die Pos gesê.

Die pad is ’n belangrike toegangsroete vir naweekbesoekers wat na Marble Hall, Zebediela en Lebowakgomo reis.

Boere gebruik die pad daagliks om tussen plase te ry en plaasprodukte te vervoer. Motorryers doen egter gereeld skade aan hul voertuigbande op weens die swak toestand van die padoppervlak. Werkers word glo kort-kort gestuur om slaggate met sand te vul, maar dit bring nie ’n permanente oplossing nie.

“Ongelukke vind plaas wanneer motorryers vir diep slaggate uitswaai en beheer oor hul voertuie verloor of voor die aankomende verkeer beland,” het Van der Walt gesê.

Hierdie bekommernis, asook die wyse waarop die betrokke provinsiale departement versoeke hieroor hanteer, is tydens die boerevereniging se laaste vergadering bespreek.

Van der Walt het gesê lede het besluit om hand in eie sak te steek en self met die herstel van slaggate te begin.

“Boerevereniginglede toon hul vasberadenheid om hulself tot ’n suksesvolle Suid-Afrika te verbind deur privaat geld beskikbaar te stel vir die koop van teer om instandhouding te doen. Ons het almal die reg om entrepreneurskap te bevorder,” het hy gesê.

“Ons vertrou dat plaaslike-, provinsiale- en nasionale owerhede hul huis in orde sal kry sodat almal in hierdie mooi land kan staatmaak op goeie dienslewering en infrastruktuur.”

Related Articles

Back to top button