Local newsNews

Vrouesoldate van weleer beplan reünie

Die vrouelede wat in 1971 deel was van die eerste Burgerlikebeskermingskollege in George word genooi na ’n 50-jaar reünie-viering in die Wes-Kaap.

Dié kollege het bekendgestaan as die eerste en enigste instansie in die land wat militêre opleiding aan vroue gebied het, het Arina Jooste, reüniekoördineerder, aan Die Pos gesê.

Geen vrou kon op daardie stadium amptelik by die weermag betrokke raak nie, maar die behoefte vir ’n leërkollege vir jong vroue het toegeneem en die weg is gebaan vir vroue om voltydse poste in die nasionale weermag te beklee.

“Daar was aanvanklik 128 jong vroue wat aansoek gedoen het om by die kollege aan te sluit. Hulle was hoofsaaklik skoolverlaters en onseker wat hulle met hul lewens wou doen.”

Die vroue was aan dieselfde streng dissipline van die weermag onderhewig en het hul basiese opleiding voltooi voordat hulle vir spesialistake in die weermag opgelei is.

Jooste het gesê nadat die vroue basiese opleiding ontvang het, het hulle ingeskakel by opleidingskursusse wat onder meer noodhulp, selfverdediging, telekommunikasie, tik, asook bestuursvernuf en onderhoudsopleiding aan voertuie ingesluit het. Liggaamlike opleiding en sportdeelname was ’n integrale deel van hul leerplan.

Die vroue is aan strawwe fiksheidsprogramme onderwerp en het aan paradekompetisies deelgeneem. Die leerplan het oor 10 maande gestrek waarna die vroue op ’n loopbaan in die privaat sektor, die polisie of die weermag kon besluit.

Die kollege is later hernoem na die SA Leërvrouekollege (SALVKOL) en is later in Heidelberg gevestig waar opleiding saam met mans plaasgevind het. Vroue-kandidate kon in die beginjare van die kollege nooit hoër as die rang van sersant bevorder word nie, het Jooste gesê.

“Lewensvaardighede soos leierskap, openbare optrede, menseverhoudings, algemene kennis, optrede by formele geleenthede, hantering van belangrike gaste en dies meer het aandag geniet. Die kollege het dus nie net gefokus op opleiding nie, maar ook op die afronding en vorming van die studente.”

Twee plaaslike vroue, Juanita Greeff van Bela-Bela en Brenda Souma van Modimolle, was ook deel van die eerste inname van die kollege.

“Die vestiging van die kollege het op inisiatief van PW Botha, destydse minister van verdediging, plaasgevind. Ek is aangestel as instrukteur in liggaamlike opvoeding met die rang van luitenant,” het Greeff gesê.

Sy het gesê dit sal baie interessant wees om uit te vind hoeveel Waterbergers oor die jare by die kollege betrokke was. Souma het vertel sy het ’n wonderlike tyd by die kollege gehad, selfs al is sy en haar kamerade van die oggend tot die aand “gedril”.

“Ek was altyd ’n teruggetrokke meisie wat geen selfvertroue gehad het nie,” het sy gesê. “Ek het ná my opleiding ongelooflike beroepe in die banksektor, asook in projekbestuur, beklee en was suksesvol in my beroepslewe. Die kollege was amper soos ’n blaaskans tussen kindwees en die verantwoordelikheid van die volwasse lewe. Dit het my ’n breë perspektief gegee van wat ek met my lewe wou doen.”

Op ’n vraag of sy tot ’n rang bevorder is, was haar antwoord: “Nee, ek was te stout.”

Van die oorspronklike 128 kandidate is daar reeds 20 oorlede, het Jooste gesê.

“Ons was die baanbrekers; nie net vir ander vroue om hul opleiding by die kollege te doen nie, maar ons groep het ook die weg gebaan vir vroue om voltyds by die weermag aan te sluit. Ons was 13 uit die 1971 groep wat offisiersrange ontvang het.”

Die kollege het sy deure in 1998 gesluit. Die reünie word beplan vir November vanjaar.

Vir navrae bel vir Jooste by tel. 082 560 5213 of stuur vir haar e-pos na toibo@imaginet.co.za(.)

Related Articles

Back to top button