Local newsNews

Vriendelike ‘oom Kat’ se plekkie is nou leeg

Vir sommige inwoners in Mookgophong was hy “oom Kat”, vir ander die oom wat met almal in die straat gesels het, maar vir dié wat hom goed geken het, was hy net oom Wally — die man met die sagte, blou oë en ’n passie vir katte.

Wally Vogel (79) is op Woensdag 13 Januarie oorlede nadat hy vir ’n geruime tyd aan Alzheimer se siekte gely het.

Volgens sy broerskind, Pikkie Poole, was Vogel van jongs af ’n alleenmens.

Hy is op 21 Julie 1941 op ’n familieplaas tussen Roedtan en Marble Hall gebore en het sy kinderjare daar deurgebring. Hy het sy hoërskoolloopbaan in Brits se Landbouskool voltooi en vir ’n klompie jare by die Poskantoor gewerk.

Hy het hom daarna by die Weermag aangesluit en was die jongste persoon in Suid-Afrika om die rang van sersant-majoor te behaal.

Met sy uittrede uit die Weermag het hy hom in Israel by ’n kibboets aangesluit waar hy in die kombuis gewerk het. Hy het ook instandhouding op die geboue behartig. Hy het ’n groot belangstelling in die Ou Testament gehad en het baie navorsing gedoen. Hy het die lande wat in die Ou Testament genoem word, besoek en selfs met sy terugkeer ou geskrifte nageslaan.

Uit sy passie vir die Ou Testament het hy twee boeke gepubliseer by name Meros en Amalek. Sy ander groot liefde was katte.

Hy het sy eie huiskatte vertroetel, maar ook op elke straathoek die buurt se rondloperkatte uit sy eie sak gevoer.

“Hy was bekend vir die plastieksak waarmee hy geloop het waarin daar peuselhappies vir die katte was,” het Poole aan Die Pos vertel.

Vogel het ’n eenvoudige bestaan gevoer. Hy wou selde van sy huis weggaan, want hy was altyd bekommerd oor wie na die katte sal omsien.

Hy het as veiligheidsbeampte by Gerhard Vosloo gewerk totdat sy siekte hom sodanig afgetakel het dat hy nie meer in staat was om die werk te doen nie.

“Hy was bekend en geliefd in die dorp.” het Poole gesê.

Die inwoners van Mookgophong, ongeag van ras, ouderdom of geslag, sal oom Wally Vogel mis.

Related Articles

Back to top button