Local newsNews

Operasie “Handevat” vorder goed

Die gemeenskap in Mookgophong en die plaaslike AfriForum-tak is onstuitbaar in hul “Operasie Handevat”-projek.

Die Pos het vroeër vanjaar berig oor die lang gras en haglike toestand van die parkie agter die munisipale kantoor in Mookgophong, maar vandeesweek het lede van AfriForum se Naboomspruit-tak en Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong hande gevat en die onooglike omgewing opgeruim.

Daar is begin om Nelson Mandelastraat vanaf die vierrigtingkruising by Hoërskool Hans Strijdom tot by die Poskantoor skoon te maak.

 

Op dié foto staan een van die inwoners in die lang gras voordat die groot skoonmaakprojek afgeskop het.

 

Die bosse teenaan die sypaadjies is gesnoei en tot almal se groot verbasing is gevind dat die plaveiselblokke wat onder die lang gras versteek was, nog in ’n goeie toestand vir voetgangers is. Die sypaadjie en heinings voor die poskantoor is tot by die polisiestasie skoongemaak en vragte vullis is verwyder.

“Ons het besluit om hande te vat en self sake te begin regruk aangesien die munisipaliteit nie hul kant bring om die dorp in stand te hou nie. Daar is haweloses wat die parkie as tuiste gebruik en die lang gras hou die moontlikheid in dat booswigte daar kan skuil. Ons is dankbaar vir die baie hulp wat inwoners aangebied het,” het Philip van Staden, voorsitter van die tak, gesê.

Die laerskool het hul trekker en grassnyer beskikbaar gestel sodat die gras gesny kon word.

Woonstelbewoners oorkant die parkie was duidelik verlig oor die projek en het hul dankbaarheid uitgespreek. ’n Inwoner het aan Die Pos gesê hulle voel nou meer gerus om buite te wees.

Bome is vir die eerste keer in jare gesnoei en vragte boomtakke is weggery.

“Ons het meer as 30 swartsakke met papier, plastiek, bottels, blikke en wegneemetes se houers uit die park verwyder. Die skoonmaakproses was blykbaar aansteeklik, want kort voor lank het amptenare van die munisipaliteit ook begin om gemors voor die gebou op te tel,” het Van Staden gesê.

Lucas Bornman, ’n bestuurslid van AfriForum-Naboomspruit, het die gemeenskap versoek om die sypaadjies voor hul eie huise skoon te maak.

“Dit sal die aansien van ons dorp verbeter en inwoners kan weer met trots hul dorp aan besoekers bemark,” het hy gesê.

Volgens Van Staden beplan hulle reeds die volgende projek. Marlene van Staden, burgemeester, het in Februarie vanjaar aan Die Pos gesê sy versoek amptenare telkemale om die gras te sny, maar die versoek val op dowe ore.

Related Articles

Back to top button