Local newsNews

Lig in die (water)tonnel vir Thabazimbi-inwoners

Inwoners van Thabazimbi is bekommerd oor die dorp se watersituasie.

Daar is gereeld ’n watertekort en ’n skynbare onwilligheid van verskeie diensverskaffers om hulp te verleen.

Die Pos het die afgelope week ondersoek ingestel en probeer antwoorde vind. LSO Consulting Engineers het sover vasgestel in September 2020 fase 2B van ’n projek van stapel gestuur om die huidige waterstelsel in die dorp op te knap.

Die projek is reeds in Augustus 2019 ter tafel gelê. Die doel was om die dorp se verouderde stelsel, wat die grootste probleme veroorsaak, te herstel en waar nodig vervang.

Die hoofwatertoevoerstelsel van Thabazimbi is sedert die dorp se ontstaan in gebruik en daarom is die besluit geneem om dit nou te vernuwe.

Die haglike toestand van hierdie waterstelsel veroorsaak dat talle lekplekke en ander probleme groot dele van die dorp bykans daagliks sonder water laat. Projekbestuurder en ingenieur Sanele Malinga het aan Die Pos verduidelik dat die huidige fase van die projek (fase 2B) daarop fokus om die nuutgeïnstalleerde pypleiding te toets vir enige lekkasies en drukprobleme.

“Ons het reeds die groot pypleiding vervang en waar nodig gekoppel aan die oorspronklike pypleiding. Die volgende stap is om te toets of dit die waterdruk suksesvol sal kan hanteer. Hierdie fase sal ongelukkig gepaard gaan met sporadiese periodes waar ons die watertoevoer moet sny, maar inwoners kan gerus wees dat hierdie ‘oefening’ net tydelik sal wees,” het hy verduidelik.

Volgens Malinga beoog LSO om die projek teen einde April vanjaar af te handel. M Civils, die kontrakteur, het dit bevestig. Rdl. Thane Hearne, munisipale speaker, het haar dank uitgespreek teenoor die inwoners van Thabazimbi vir hul ondersteuning met die projek en hulle verseker dat die munisipaliteit alles in hul vermoë doen om te verseker dat die dorp se inwoners gemaklik deur die laaste fase van die projek sal kom.

“Ons hoop dat die voltooiing van die projek ’n verbeterde waterdrukstelsel sal daarstel sodat inwoners van ordentlike en volgehoue waterdienste verseker kan wees. Die munisipaliteit het ’n kennisgewing uitgereik om inwoners in te lig dat waterdienste op Dinsdae en Donderdae onderbreek sal word terwyl daar aan die stelsel gewerk word. Die munisipaliteit vertrou dat die verbeterings wat hierdie projek teweeg sal bring baie van die frustrasies oor die konstante watervoorsiening sal verlig.

“Wees asseblief geduldig met die ongerief wat deur hierdie projek veroorsaak word. Ons sien uit na die suksesvolle voltooiing van die projek, verbeterde waterbestuur en om ons paaie en sypaadjies weer te herstel sodat alles kan terugkeer na normaal,” het Hearne verduidelik.

Related Articles

Back to top button