Local newsNews

Kontrakteur sê Bela-Bela se infrastruktuur is skokkend

Inwoners van Bela-Bela se lont is kort oor die toestand van die dorp se paaie.

Dit is nie net die munisipaliteit wat versuim om slaggate te herstel nie.

Die kontrakteurs wat tans internetkabels in die dorp lê, grawe slote in die paaie wat daartoe lei dat voertuie se bande beskadig word, sê inwoners.

Dié grawery veroorsaak volgens inwoners ook male sonder tal diensleweringsprobleme. Dié projek word deur die kontrakteur Vumatel behartig wat die werk met die goedkeuring van die Bela-Bela-munisipaliteit doen.

Volgens die munisipaliteit word dié projek egter nie as ’n munisipale kontrak bestuur nie.

Inwoners kla gereeld dat die unieke snymasjien wat die kontrakteur gebruik, kragkabels en waterpype raaksny wat dan daartoe lei dat ’n hele buurt soms sonder krag of water gelaat word.

Hoewel die kontrakteur, in samewerking met munisipale amptenare, poog om die foute spoedig te herstel, veroorsaak dit steeds ongerief. Die ander doring in inwoners se vlees is dat slote nou dwarsoor die paaie gegrawe word.

Hoe meer verkeer oor die oop slote beweeg, hoe erger is die verwering van die teeroppervlak en slote word al dieper.

Verskeie inwoners het gekla oor skade aan voertuigbande. Rudolph Breytenbach, projekbestuurder, het by navraag aan Die Pos gesê hulle beleef self baie frustrasies.

“Die toestand van die paaie in Bela-Bela is uiters swak,” het hy gesê.

Hy het gesê die werk — van die sny van die pad tot die lê van kabels en die opvul van teer — behoort slegs twee tot vier dae te duur, maar Bela-Bela se swak infrastruktuur veroorsaak dat die paaie verbrokkel en daarom neem die werk meer tyd in beslag.

Hoewel die kontrakteurs oor die nodige toerusting beskik wat kragkabels en waterpype aandui, het Breytenbach gesê hulle word telkens verras deur aansluitings wat nie volgens die netwerkplan gedoen is nie. Dit is dan wanneer onderbrekings ontstaan. Volgens hom vind hulle ook talle pype en kragkabels wat nie aan die voorgeskrewe bouregulasies voldoen nie.

Die onlangse reën het ook die werkskedule beïnvloed.

“Ons probeer werklik ons bes om die projek met die minste ontwrigting vir inwoners te voltooi,” het hy gesê.

Dit is nog onduidelik wanneer die kontrak afgehandel sal wees. Breytenbach het gesê die onderneming poog om vir inwoners van diens te wees deur van die slaggate te herstel wat in die direkte omgewing is waar die slote hervul word.

Hy nooi inwoners om met hom in verbinding te tree indien die opgradering hul direk verontrief. Mense kan hom bel by tel. 073 808 3448.

Related Articles

Back to top button